Vers n dag - 20 April 2012
Opstanding maak jou ‘n tevrede mens.
Quintus Heine
Ps. 131:2 “ Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.
Willem Nicol vertel die volgende pragtige storie uit die Joodse Hasidiese tradisie.
Isak ʼn arm Jood het in ʼn klein pondokkie ver van die groot stad geleef. Een nag droom hy dat hy ʼn lang reis na die stad onderneem waar hy ʼn sak goud onder die brug van die hoofingang van die stad vind. Hy het die droom geïgnoreer, maar elke aand het die droom teruggekom. Isak was so arm dat hy gevind het hy het niks om te verloor nie. Hy besluit om die droom te toets en het die lang reis na die stad aangepak. Na dae se reis kom hy daar aan, net om te sien dat die stadspoort en brug baie streng bewaak word. Toe die kaptein van die wagte sien dat hy al onder die brug wou inloop, skree hy op hom: “ Wat maak jy hier ou man?” In sy eenvoud vertel hy toe van die droom. Die kaptein lag hom uit en roep uit “Jou dwaas wat sou van ons word as ons drome begin glo. Laas nag het ek gedroom dat ek na ʼn ou huisie van ʼn ou Jood ver hiervandaan moet gaan. Daar agter sy vuurherd is ʼn skat. Dis mos simpel Ek sal dit mos nie doen nie.” Net daar draai Isak om en haas hom na sy huis. By sy eie huis kyk hy agter sy eie vuurherd en daar vind hy toe die skat.
Jesus se opstanding maak dat ons nie meer vervulling van ons geestelike lewe op ander plekke te soek as net by God nie. Ons hoef nie meer soekend te leef nie, ons kan met rustigheid en tevredenheid elke dag ‘n tevrede lewe besit. Jesus het die skat van die lewe in ons eie harte geplaas. Ons moet dit daar soek en nie op ander plekke nie.
Dit is ook waarvan Dawid is Ps. 131 praat. Hy sê hy wil graag by God wees soos ʼn tevrede babatjie. Jy het dit seker al ervaar of gesien dat daar niks die woordjie tevredenheid so beskryf as die uitdrukking op ʼn babatjie se gesig, as die by haar Ma is nie! As sy in haar Ma se arms is, dan is sy volkome tevrede! In die persoon wat haar vashou, word alles uitgebeeld wat sy in haar lewe nodig het. Daar voel sy veilig, want sy weet sy word versorg. As jy in God se teenwoordigheid leef, sal jy ‘n soortgelyke en tevrede lewensingesteldheid hê.
Gebed: Here, dankie dat Jesus vir my die geskenk van tevredenheid gegee het.