Vers n dag - 25 April 2012
Die Here is lief vir jou!
Quintus Heine
1 Joh 4:9, 10 Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
'n Onlangse opname in Amerika het getoon dat soveel as 8 miljoen Amerikaners vir hulself Valentynsgeskenke en kaartjies koop. Die wêreld waarin ons leef is vol eensame mense wat 'n behoefte aan liefde het. Die mens se grootste gemene deler is dat almal hunker na liefde. Almal wil deur iemand liefgehê word. Die goeie nuus van die evangelie is dat God die mens nie op sy eie los nie. Hy is besorg oor die mens en Hy het ons lief – so lief dat Hy sy Seun gestuur het om vir die wat in Hom glo, versoening van sy tekortkominge en sondes te bring.
God het jou lief, maak nie saak wat jou omstandighede vandag is nie. Dit maak nie saak watter verkeerde ding jy gedoen het of waarvan jy wegvlug nie. Dit maak nie saak watter seerkry of las jy vandag saamdra nie - God het jou lief!
As jy voel dat jy ander mense in die steek gelaat of teleurgestel het - dink aan 'n goeie Pa wat jy ken, wat ten spyte van 'n baba se huil en ontevredenheid, steeds sy baba teen hom sal vasdruk. God sal jou altyd vashou. "Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie." Joh 10:29
As jy eensaam voel en ervaar dat niemand werklik na jou wil luister nie – dink aan Jesus se uitnodiging: "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee." Matt 11:28
As jy nutteloos voel, dink aan God wat sy Seun, Jesus Christus, gestuur het om sy lewe vir jou te gee! "God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word." Joh 3:17
Jy hoef nie vandag vir jouself 'n kaartjie te koop nie, want God doen dit met sy onvoorwaardelike liefde. Wees vandag bewus dat Hy vir jou lief is, jou hand vashou en heeltyd by jou teenwoordig is.
Gebed: Here dankie dat ek kan weet U is altyd by my en het my baie lief.