Imogen Campbell
 
Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.’ Deuteronomium 20:4, 1983-vertaling
 
Die liedskrywers, William Steffe en Julia Ward, het "The Battle Hymn of the Republic" oorspronklik in die 1800s geskryf. Hierdie duidelike oproep om wapens op te neem vir 'n geveg in die geestelike wêreld, laat my hoendervleis kry. Ek het al dikwels gesien hoe dit Christene aanraak wanneer dié lied in dienste gesing word.
 
"In the beauty of the lilies Christ was born across the sea
With a glory in His bosom that transfigures you and me
As He died to make men holy, let us die to make men free
While God is marching on
 
Glory, glory, hallelujah! x3
While God is marching on"
 
Jesus stuur ons uit op 'n spesifieke sending: om ons ou self af te lê en ander mans en vrouens wat nog in die duisternis sonder God leef, te help. 'n Sending om dit wat die duiwel gesteel het vir Christus terug te wen. Die taak op hande is uiters groot. Miljarde mense het nog nie 'n verhouding met Jesus Christus nie.
 
Ek moet bely, alhoewel ek sedert my jeug 'n gereelde kerkganger was, het ek nie geweet wat dit beteken om 'n ware dissipel te wees totdat God dit vir my in sy Woord gewys het nie. En kan jy glo, daar was meer as 12 dissipels! Ja, dit klink nou miskien baie dom, maar dit was hoe onkundig ek was voordat ek regtig begin het om die Bybel te bestudeer. En wie sou kon sê dat dissipels later Christene genoem is. Ek het selfs dit ook nie geweet nie. "en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek.Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem." (Handelinge 11:25-26)
 
Ek was vreeslik geskok toe ek ontdek het dat ek nie 'n ware Christen is nie. Geen wonder nie, want ek het om mee te begin nie geweet wat dit beteken nie, maar ek was definitief baie opgewonde om een te word. Deur genade en in geloof is ek gered en ek het begin verstaan dat die lewe wat ek gekies het met groot verantwoordelikheid gepaard gaan.
 
Dissipels is nog altyd, en word vandag steeds, geroep om die Woord van God uit te dra, hulleself te verloën, die kruis op te neem en Jesus te volg. Dissipels word geroep om voortdurend te leer hoe om meer soos Jesus te wees. "Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is." (Romeine 8:29)
 
Geen geringe taak nie, maar deur die krag van die Heilige Gees is hierdie taak vir die res van ons aardse reis duidelik vir ons uitgelê.
 
Gebed: Hemelse Vader, in daardie onvermydelike oomblikke wat ons wankel, gee dat ons nie net aan die geveg sal dink nie, maar ook aan die oorvloedige genade tot ons beskikking sodat ons in u Naam kan voortmarsjeer. Amen