Louise Gevers
 
“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?” Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”
 
Is die lewe nie 'n reis waarin ons, onderweg na die ewigheid, God en onsself toenemend beter leer ken nie? "Jou ware identiteit is die van 'n kind van God" [vry vertaal], sê Henri Nouwen. Dit beklemtoon vir my dat 'n ontmoeting met Jesus 'n mens nooit dieselfde kan laat nie, 'n verbintenis met ons Verlosser, ons Ware Weg, ons Ewigheid, lei ons op 'n reuse avontuur en soos ons groei, leer ons Hom beter ken. Dit is hoe dit vir Petrus was.
 
Van die oomblik dat Petrus gereageer het op Jesus se roepstem: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” (Matteus 4:19, 2020-vertaling) het die lewe van dié visserman beduidend verander. Hy het sy hart gevolg en hy het in geloof gegroei toe hy gesien het hoe Jesus die menigtes leer, hulle met deernis en deur 'n wonderwerk gevoed het, die siekes gesond gemaak, duiwels uitgedryf en dooies opgewek het – en hy het in verwondering gestaan toe Jesus Hom nie in 'n lokval laat lei het deur die Fariseërs wat in hulle ongeloof en trots wou hê dat Hy 'n wonderwerk moes doen om te bewys dat Hy van God afkomstig is nie.
 
Petrus was ook aan die ontvangkant van Jesus se waarskuwing aan die dissipels: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes” (Markus 8:15) wat nie een van hulle verstaan het nie. Petrus het beleef hoe Jesus wou hê dat hulle 'n beter begrip moes hê vir sy gelykenisse waardeur Hy die Fariseërs en Herodes se toenemende sonde en hardheid van hart teenoor God geïllustreer het en hoe dit deur hulle skynheiligheid en honger vir mag duidelik geword het, en hoekom Hy daarteen gekant was.
 
Hy het ook besef dat Jesus sy dissipels se gedagtes geken het en deur sy wens dat hulle moes "honger en dors na wat reg is" (Matteus 5:6) het Hy hulle geloof en begrip uitgedaag. “Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie?" (Markus 8:17-18)
Petrus het ongetwyfeld gesien hoe frustrerend dit vir Jesus was dat Hy alleen vir die waarheid gestaan het terwyl die "owerhede" wat nie waarlik aan God toegewy was nie, die mense verhoed het om God deur sy genade te vind en sodoende sy liefde en ware aanbidding te ervaar.
 
Miskien het Petrus waarlik besef wie Jesus is tydens 'n wonderwerk toe hulle in Betsaida aangekom het, en "toe bring die mense 'n blinde man na Jesus toe en vra Hom om hom aan te raak." (Markus 8:22) Petrus het gesien hoe Jesus "op sy oë gespoeg, sy hande daarop gesit en vir hom gevra [het]: “Sien jy al iets?" Hy het sy oë geknip en gesê: “Ek sien mense, iets soos bome. Ek sien hulle loop.” Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien." (Markus 8:23-25) In sy wysheid kon Jesus alles doen, selfs in fases, en dit het Hy ook met Petrus gedoen.
 
Dit man wat eens op sy knieë voor Jesus neergeval en gesê het: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.” (Lukas 5:8b) het nou in sy hart geweet "U is die Christus".
 
Ken ons hierdie Jesus?
 
Waar is ons op ons pad met Jesus? Hy vra vandag nog vir elkeen van ons: "Maar julle ... wie, sê julle, is Ek?”
 
Gebed: Here Jesus, U roep ons om U te volg en U wys vir ons die pad na die Vader. Open my oë en my hart sodat ek U waarlik kan ken. Amen