Louise Gevers
 
“Jy moet 'n roset van suiwer goud maak en daarop graveer, soos wanneer 'n seëlring gegraveer word, ‘Heilig vir die Here. Eksodus 28:36, 2020-vertaling
 
Sinoniem met luuksheid, uitnemendheid, suiwerheid en waarde, en met 'n glans wat nooit verdwyn nie, is goud 'n hoogs gewaardeerde edelmetaal wat nooit sy aantrekkingskrag verloor nie. Dit is mooi om na te kyk, dit is blywend want dit roes nie, en dit word dikwels gekies om sentiment en waardering te bewys – maar die liefde daarvoor kan egter ook tot verslawing en vernietiging lei. Deur al sy beproewinge en lyding, herken Job ook die waarde daarvan wanneer hy besef dat hy soos goud verfyn word en deur geloof in God kan hy sê: "Ja, Hy ken die pad waarop ek gaan; as Hy my toets – soos goud sal ek daar uitkom." (Job 23:10)
 
Die Here het beveel dat " 'n roset van suiwer goud" gemaak moet word vir Aäron se tulband wat hy moes dra as deel van sy kleredrag as hoëpriester, die verteenwoordiger van die mense en die bemiddelaar tussen hulle en God. Op die roset moet daar soos op 'n seëlring gegraveer word: "Heilig vir die Here". Dit moet duidelik op Aäron se voorkop sigbaar wees sodat die mense bewus kon wees van sy heilige amp en van hulle spesiale plek in God se hart wanneer Aäron, as hulle verteenwoordiger, vir die vergifnis van hulle sonde 'n offer bring. Deur die gebruik van goud, het God 'n verhouding van liefde en getrouheid aangewakker.
 
Priesterlike klere is ontwerp om heilig en waardig te wees en begrip van God se heiligheid by die mense in te skerp, asook die belangriheid om God deur hulle aanbidding te eer. Hierdie klere het ook deur elke spesifieke, belangrike stukkie, die heiligheid van die priesterlike amp beklemtoon. Deur goud te kies, het God iets pragtig geskep met die doel om die reinheid en prag wat Hy in sy volk wou sien, te inspireer en waardeur Hy oorgedra het dat Hy volkome toewyding van hulle verlang het.
 
Tans is daar baie talentvolle mense wat hulleself aan streng oefenprogramme onderwerp het en persoonlike opofferings gemaak het om aan die Olimpiese Spele te kan deelneem, met die hoop dat as hulle 'n goue medalje wen, groot eer hulle te beurt sal val. Maar ten spyte van hulle pogings gaan dit met relatief min gebeur. Diegene wat egter die lewensreis in Christus aflê, ten volle aan God toegewy – "Heilig vir die Here" – hardloop ook vir goud. Hulle gaan egter 'n ewige kroon wen want: "wanneer die Opperherder kom, sal [hulle] die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang." (1 Petrus 5:4, 1983-vertaling)
 
Hulle is diegene wie se siel "smag na waterstrome ... na U, o God" (Psalm 42:2), " wat honger en dors na geregtigheid" (Matteus 5:6) en wat eendag "sy aangesig [sal] sien, en sy Naam ... op hulle voorkoppe." (Openbaring 22:4)
 
Die afgelope maand, terwyl ons die tema "Leef voluit" oordink het, het ons doelbewus ons harte vir God oopgestel asook vir die krag en inspirasie van die Heilige Gees. Ons het die rykheid en vreugde van 'n lewe in Hom oordink en besef "alles het Hy mooi gemaak op sy tyd. Hy het ook die besef van tydsduur in [ons] harte gegee ... " (Prediker 3:11)
 
Streef jy ook na goud?
 
Gebed: Hemelse Vader, U het u "enigste Seun ... na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê". (1 Johannes 4:9, 1983-vertaling) Want dit is U "wat die gewilligheid en die optrede in [ons} bewerk soos [U] dit goedvind ... sodat [ons] sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van 'n krom en ontaarde geslag ... [en] onder hulle soos sterre in die heelal [skyn]." (Filippense 2:13,15) Dankie vir u onfeilbare liefde en dat U deur Jesus Christus, ons Here, waarlik waarde en prag aan ons lewens gee. Amen