Louise Gevers
 
Hy vra hom toe: “Wat is jou naam?” Hy antwoord Hom: “My naam is Legioen, want ons is baie!” Markus 5:9, 1983-vertaling
 
Stemme, opgewondenheid, musiek – voel jy ook soms asof die wêreld en al sy geraas jou private ruimte binnedring juis op daardie oomblikke wat jy 'n herinnering, 'n ondervinding of heilige stilte wil geniet? Ek voel so.
 
Ek het onlangs my kleinkind uitgeneem om haar te bederf by 'n gewilde gesinsrestaurant waar sy in die speelarea met ander kinders pret kon hê. Die lewendige aktiwiteite en die vrolike gesels het egter gou, toe nog meer kinders vir verskillende vieringe opgedaag het, in 'n vrolike geskreeu verander. Dit was egter die ander geluide – die televisie, harde stemme en die gesing – wat veroorsaak het dat mense mekaar feitlik nie kon hoor nie en amper moes skreeu om gehoor te word. In die chaos kon ek nie meer dink nie.
 
In "Alice in Wonderland" is daar die snaakse toneel waar Alice vir Caterpillar ontmoet. Alice sukkel om te dink na verskeie ondervings toe sy in 'n konyngat geval het. Toe Caterpillar haar vra wie sy is, antwoord sy: "I hardly know, Sir. I changed so many times since this morning.” Toe hy daarop aandring dat sy moet verduidelik, sê sy:  “I can’t … because I’m not myself you know … I hardly know who I am right now … it isn’t clear to me.” (https://youtu.be/tf5nCPFBSHw)
 
Ons almal beleef soms oomblikke van verwarring wat deur eksterne of persoonlike druk veroorsaak word. Soms neem dit epiese proporsies aan en weet ons nie hoe om dit te hanteer nie. Dit lei dan tot groter druk. Miskien het Legioen, die karakter in ons teksvers, homself in so 'n situasie bevind.
 
Toe Jesus hom teëgekom het, het die aanhoudende geskreeu van stemme in sy kop reeds sy gesonde verstand oorgeneem. Aangedryf deur 'n onrein gees, was "hierdie man se blyplek ... tussen die rotsgrafte. Niemand kon hom meer vasbind nie, selfs nie met 'n ketting nie ... maar hy het die kettings losgeruk en die voetboeie stukkend gebreek. Niemand kon hom beheer nie. Heeltyd, bedags en snags, het hy tussen die rotsgrafte en op die berge homself al skreeuende met klippe geslaan." (Markus 5:3-5)
 
Jesus het besef in watter toestand hierdie gekwelde man was en Hy het die klomp onrein geeste wat in hom was uitgedryf en sy lewe herstel. Hy het hom van 'n morbiede obsessie met die dood bevry, sy wonde genees en, deur hom in staat te stel om weer helder te kan dink en redeneer, sy menswaardigheid aan hom terugbesorg. "Hulle kom toe by Jesus en sien die besetene daar sit, die een wat die legioen in hom gehad het, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword." (Markus 5:15)
 
Daar is iets heiligs daaraan om by jou volle verstand te wees.
 
Jesus het gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed." (Matteus 11:28-29)
 
Kom ons bring ons laste na Jesus toe. Ons hoef nooit vir Hom bang te wees nie. Hy is die toonbeeld van begrip en deernis vir almal wat in nood na Hom toe kom. Hy wil ons genees en ons gesond sien, herstel en "geklee" met ons volle verstand. Wanneer ons na Hom toe gaan, neem Hy die verwarring weg en vervang dit met vrede. Praat vandag nog met Hom.
 
Gebed: Here Jesus, dankie vir u deernis wat U bewys aan almal wat 'n behoefte het aan u genesende hand. Skenk aan my die moed om, deur geloof in u krag, tot U te nader. Amen