Louise Gevers
 
Toe Josef se broers besef dat hulle vader nou dood is, sê hulle: “As Josef 'n wrok teenoor ons koester, gaan hy ons beslis terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het.”  Genesis 50:15, 2020-vertaling
 
Vergifnis is 'n noodsaaklike bestanddeel om in volkome vrede te kan leef – in vrede met God, ons naaste en onsself. Jesus het ons geleer om te bid: "en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan." (Lukas 11:4) Ons het God se vergifnis nodig, maar Hy beklemtoon die noodsaaklikheid om ook ander te vergeef en Hy spoor ons aan om die mense wat ons vervloek te seën en vir diegene wat ons sleg behandel, te bid. (Lees Lukas 6:28)
 
Soos liefde, is vergifnis 'n aksie wat ons doelbewus moet uitvoer. Dit verander die gevolge van haat en bitterheid en bevry diegene wat 'n wrok koester teen diegene wat hulle te na gekom het. Volgens Henri Nouwen "verander vergifnis die manier wat ons onthou." [vry vertaal]
 
Dit is duidelik sigbaar in die deernisvolle manier waarop Josef na sy broers uitreik wanneer hy sê: "Dus, moenie bang wees nie! Ek self sal julle en julle afhanklikes van kos voorsien.” So het hy hulle getroos en mooi met hulle gepraat." (Genesis 50:21) Josef het onomwonde, selfs na sy vader se dood, sy vergifnis gehandhaaf en hy het, van hulle aanvanklike ontmoeting in Egipte toe hulle "verbysterd voor hom gestaan" (Genesis 45:3) het, voortgegaan om hulle te ondersteun en sy opregtheid versterk met die woorde: "Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het." (Genesis 45:5)
 
Josef het baie gehad om the vergewe. Stel jou voor hoe verworpe hy moes gevoel het nadat sy jaloerse broers hom as 'n slaaf verkoop het, hy seksuele teistering van sy baas se vrou moes verduur en hy in die tronk gegooi is toe hy die regte ding gedoen het deur haar toenadering teen te staan. Hy het egter besef dat God al die pad by hom was, en dat sy doel deur Josef se swaarkry geseëvier het. God het Josef met bevordering geseën tot die tweede belangrikste amp in Egipte wat hom in staat gestel het om nie net homself en die Egiptenare tydens 'n hongersnood te red nie, maar ook sy familie in hulle tyd van nood.
 
Sy broers het egter gesukkel om te glo dat hy hulle vergewe het, aangesien hulle nog onder skuld gebuk gegaan het en gesukkel het om hulleself te vergewe vir wat hulle aan hom en hulle gesin gedoen het. Hierdie skuldlas wat hulle vir so lank gedra het, het hulle verhouding met God beïnvloed en dit het hulle verblind vir Josef se opregte deernis vir hulle.
 
Liefde en vergifnis komplimenteer mekaar, bring harmonie en vrede tussen ons en God, of tussen ons en ons naaste. Soms is dit nodig, soos die geval met Josef, dat vergifnis plaasvind selfs wanneer die persoon nie langer teenwoordig is nie. Die proses het hom bevry en vir hom vrede gebring. Josef het besef dat God alleen die regter is: "Maar Josef het vir hulle [sy broers] gesê: “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek?" (Genesis 50:19) Hy het nie gewag om hulle eendag te konfronteer nie, maar hy was onmiddellik gereed om praktiese liefde aan hulle en hulle afhanklikes te bewys.
 
Het ons vrede met God en ander of het ons nog onvoltooide besigheid?
 
Gebed: Ons Vader, "as ons ons sondes bely – [U] is getrou en regverdig, en daarom sal [U] ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig." (1 Johannes 1:9) Help my om diegene wat my kwaad aangedoen het te vergeef en om my eie vergifnis in U te vind. Amen