Louise Gevers
 
Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.  Psalm 37:4, 1983-vertaling
 
Indien jy ons teksvers reeds voorheen gelees het, het jy toe daaroor nagedink – hoe dit op jou lewe betrekking het? Met die eerste oogopslag mag dit soos 'n towerformule uit 'n feëverhaal lyk om te kry wat jy die graagste in die lewe wil hê, maar God gebruik nie towerkuns nie. Hy gebruik die waarheid en verhoudings.
 
Dit beteken God skep behae daarin om sy kinders te seën, nie omdat hulle dit ooit kan verdien nie, maar omdat Hy "... goed [is], aan sy liefde is daar geen einde nie ... " (Psalm 100:5) en " ... onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte ..." (Psalm 103:17)
 
Dawid se seëninge het nie sommer in sy skoot geval nie, maar was die gevolg van 'n lang verhouding van vertroue in God van kleintyd af toe hy sy pa se skape opgepas het. As skrywer van ons teksvers het hy die inhoud geleef voordat hy dit geskryf het.
 
In Psalm 21 erken Dawid dat "die wens van sy hart" vervul is, " ... voorspoed en geluk ... 'n goue kroon ... 'n lang, lang lewe ... uitkoms, ... aansien ... roem en eer ..." (Psalm 21:3-6) Hy het niks meer verlang nie want "die koning vertrou op die Here en deur die trou van die Allerhoogste struikel hy nie." (Psalm 21:8) Watter wonderlike geloof.
 
Vir my het hierdie teksvers "lewendig" geword toe ons as 'n jong gesin met drie kinders en al hoe groter behoeftes, onder groot druk verkeer het om ons verpligtinge te kon nakom. Ek is nou baie dankbaar vir daardie ondervinding wat gehelp het om my geloof te vorm.
 
Met Paulus se woorde in ons harte: "Wees in alle omstandighede dankbaar ..." (1 Tessalonisense 5:18) het my man en ek begin om te bid. Ons het begin deur eers God te dank vir dit wat Hy aan ons gegee het. Ons het alles genoem, klein en groot, voordat ons ons sorge aan Hom voorgelê het. Die wonderlikste ding het toe gebeur.
 
Terwyl ons Hom gedank het vir ons huis, gesin, lewens, werk, besittings – 'n nimmereindigende lys – het ons toenemend besef hoe ryk ons in Hom is deur sy genade. Trouens, ons het so baie seëninge gehad om te tel dat die "probleme" – wat 'n werklikheid was – en wat ons nog nie eers genoem het nie, begin het om grootliks te vervaag. Ons was so oorweldig dat ons begin het om te lag en terselfdertyd het trane van blydskap gevloei. Ons beker was half vol en nie half leeg nie!
 
God het ons daardie dag gewys dat Hy altyd by ons is, ons onderhou en, deur geloof, het ons geweet dat Hy ons mettertyd in staat sou stel om ons verpligtinge na te kom. Ons bekommernisse het deur die rykdom van die Here se genade tot hulle regte grootte gekrimp, ons harte was vol en het oorgeloop van blydskap.
 
Die Here het reeds aan ons gegee wat ons harte begeer en ons het ons vreugde in Hom gevind.
 
Gebed: Hemelse Vader, hoe mooi praat U nie met ons deur u Woord nie. Help ons om diep uit u vol beker te drink en ons vreugde in U te vind. Amen.