Louise Gevers
 
Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand. Jesaja 41:10, 2020-vertaling
 
Vrees is iets wat enige persoon op enige tyd kan beleef, maar vir 'n klein kindjie wat nog nie geleer het om te redeneer nie, is irrasionele vrees dikwels aan die orde van die dag. Ek kan onthou hoe bang ek as 'n kind vir die donker was, vir dit wat onder my bed skuil (met my in die bed) en vir die vreemde vorms van die jasse wat agter die deur hang.
 
My ma, wat vir alles 'n lied gehad het, het heel waarskynlik my vrese ligtelik opgeneem toe sy my geleer het om die lied "I whistle a happy tune" (https://www.youtube.com/watch?v=WGS029Peq7k) uit die film "The King and I" te sing sodat niemand sou weet dat ek bang is nie. Dit het 'n vrolike wysie wat 'n jong kind se aandag kan aftrek, maar dit het nie gehelp met vrese wat my in later jare beetgepak het nie!
 
Die angs wat ek vroeër vanjaar oor ons vlug van Engeland huis toe gevoel het, was egter 'n werklikheid. Dit was kort nadat ek die verskriklike beeldmateriaal gesien het van die Singapoer Lugdiens vliegtuig wat 6 000 voet geval het as gevolg van "clear turbulence" waarin dit beland het. BBC-nuus het dit uitgesaai en dit het alles teruggebring waarvoor ek bang was voordat ek jare gelede vir die eerste keer sou vlieg. Maar ek wou dit nie aan myself erken nie. Ek bid altyd vir ons reise en het gedink dat ek sou beter voel nader aan die tyd vir die vlug, so ek het maar daarvan vergeet.
 
Maar God het geweet.
 
Soos die tyd nader gekom het, het ek besef dat ek nie heeltemal gerus was nie, maar ek het geweet dat ek moes vlieg om by die huis te kom. Toe, ongeveer twee weke voor ons vertrek, het die teksversies en gebede wat ek dikwels van vriende (wat niks hiervan geweet het nie) ontvang, begin om oor spesifieke onderwerpe te handel: vertroue, krag en vrede.
 
"Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. (Spreuke 3:5-6) Toe het iemand die seëngebed uit Deuteronomium 6:24-27 gestuur, en ook nog verskeie gebede vir vrede: "Laat my weer uitroepe van vreugde en blydskap hoor ... Skep 'n rein hart vir my, o God, vernuwe 'n bestendige gees in my binneste" (Psalm 51:10-12) en ook "Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. (Filippense 4:13)
 
"Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader" (Jakobus 4:8a) Toe het ek 'n gebed ontvang om my "van alle kante af te skerm" (Lees Job 1:10) – "Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees." (Romeine 15:13) "Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het.” (Johannes 20:29b) Ek het selfs die woorde van 'n ou lied “God will take care of you” ontvang. Ook die woorde van Matteus 6:34: "Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie ..." en nog vele meer is aan my gestuur.
 
Hierdie is alles dinge wat ek weet en glo, maar die vyand val ons so dikwels aan wanneer ons swak, moeg of onder druk is of wanneer ons 'n groot uitdaging moet oorkom en, alhoewel ons dit nodig het, nie genoeg tyd met die Here spandeer nie. Vir my, deur my daagliks daaraan te herinner dat Hy weet, was dit asof Hy 'n engel gestuur het wat sê: "Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand."
 
Mag sy Woord ook al jou vrees verdryf! "Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend." (Filippense 4:6) "Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand vas, Ek wat vir jou sê, ‘Moenie bang wees nie – Ek is die Een wat jou help.’" (Jesaja 41:13)
 
Gebed: Ons Vader, slegs U kan in uitdagende tye deur u Woord aan ons vrede gee, en al ons angs verdryf wanneer ons u onfeilbare liefde vertrou. Ons dank U daarvoor. Amen