Ewald Schmidt
 
“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. Matteus 5:21-24, 1983-vertaling
 
Die heel belangrikste saak in God se koninkryk is verhoudings. Ons het gister gesien dat Jesus die wet kom vervul het, deur vir ons te herstel in ons verhouding met God, en met ons naaste. Nou loop ons ons lewenspad in die voetspore van Jesus as sy dissipels. Hy het juis gekom as die Vredevors, wat stukkende verhoudings kom herstel het. Hy stuur ons ook in hierdie wêreld in as vredemakers, dan sal ons kinders van God genoem word. (Matteus 5:9)
 
Ons elkeen kan getuig dat dit nie so 'n maklike opdrag is om in vrede met al ons naaste saam te leef nie. Ons weet dat die sewende gebod ons geleer het om nie dood te slaan nie – dis 'n baie algemene reël oor die wêreld heen in die meeste kulture en gelowe. Dit is die letter van die wet: moenie jou naaste doodmaak nie. In hierdie verse vind ons iets nuuts – Jesus haal eers die wet aan wat aan die mense geleer is van kleins af. Dan kom verruim Hy die beginsel en gee nuwe betekenis daaraan – “maar Ek sê vir julle ...” Dit sou die Fariseërs baie kwaad maak. Net God het die reg om die wet te verander. Jesus het die reg om dit te doen!
 
Jesus gaan na die hart van die sewende gebod. My naaste se lewe is vir die Here belangrik. Dit gaan oor meer as om hom net lewendig te laat. My optrede moet sy welsyn bevorder. Nie net my dade nie, maar ook my woorde en my gesindheid wat my naaste raak, is vir die Here belangrik.
 
Daarom is skeltaal, om my naaste se karakter af te breek, al klaar sonde. Om onnodig kwaad te word en jou woede op jou naaste uit te haal, is al 'n oortreding van hierdie beginsel. Dit pas nie by 'n kind van die Here om ons naaste te beledig en af te breek nie, soos om hulle idiote te noem nie.
 
Verhoudings is so belangrik vir die Here dat Jesus vir ons die opdrag gee om selfs reg te probeer maak wanneer iemand anders iets teen ons het. Dit is vir die Here belangriker dat ons eers probeer om 'n stukkende verhouding heel te maak, waar die ander persoon vir ons kwaad is, as wat ons offers vir Hom bring. Wanneer ons harte skoon is, dan kan ons aanbid. Vrede tussen God se mense is vir Hom baie belangrik. Dissipels is vredemakers, ons is bereid om te vergewe en 'n hand uit te reik na ons naaste toe. Ons leer om jammer te sê wanneer iemand anders vir ons kwaad is. Indien alle mense dit kon regkry, sou hierdie wêreld heeltemal anders gelyk het!
 
Gebed: Here Jesus, U het vir my aan 'n kruis gesterf, juis omdat ek so ’n gebroke en selfsugtige mens sou wees. U, as Vredevors, het my kom ontmoet, en my lewe radikaal kom verander. Dankie vir u vrede in my lewe. Leer my nou om 'n hand van vrede na my naaste uit te strek. Amen