Ewald Schmidt
 
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.” Matteus 5:27-30, 1983-vertaling
 
Hierdie is tans een van die moeilikste teksverse in die Bybel, omdat dit so teen die tydsgees vandag indruis. Jesus begin eers deur een van die 10 gebooie aan te haal – die sewende gebod. Egbreuk is verstaan as enige seksuele aktiwiteit buite die huwelik. Die straf vir egbreuk was nogal erg – in beide Levitikus 20:10 en Deuteronomium 22:22 was die doodstraf aanbeveel vir getroude mense wat met ander se huweliksmaats seksueel verkeer. Die boodskap agter hierdie verskriklike straf was om raak te sien hoe hoog die Here die huwelik ag, en dit probeer beskerm. Verhoudings is vir ons God baie belangrik. Na ons verhouding met Hom is die volgende belangrikste verhouding dié met ons lewensmaat, die persoon saam met wie ons ons lewenspad stap. Die huwelik was van die heel begin af God se plan om gesonde gesinne en samelewings te bou. Maar van die sondeval af was die huwelik ook 'n teiken vir die bose.
 
Jesus neem die sewende gebod, en maak die interpretasie daarvan nog moeiliker. Vir Hom gaan dit nie net oor die daad van seksueel met iemand buite jou huwelik verkeer nie. Hy vat dit verder, terug na ons gedagtewêreld. Selfs wanneer 'n gelowige 'n dwalende oog het, kan jy al in die moeilikheid beland. Versoekings en gedagtes kan maklik lei tot planne, planne gaan oor in aksie, en op die terrein van die huwelik vernietig ontrou ons belangrikste verhoudings.
 
Jesus het juis na hierdie wêreld toe gekom om stukkende verhoudings heel te maak. Daarom waarsku Hy ons om ons huwelike op te pas. Op hierdie terrein van ons lewe kan ons maklik tot 'n val kom, die versoekings is baie sterk. Daarom is dit goed om baie versigtig te wees met wat jy na kyk. Pornografie het so maklik bekombaar geword. Met pornografie kom die versoeking om te vergelyk, of onrealistiese verwagtinge van jou lewensmaat te koester. Ek weet dit klink baie outyds, maar pas jou lewensmaat mooi op. Respekteer hom of haar, waardeer hulle as 'n gawe uit die hand van die Here. Doen alles in jou vermoë om die huweliksverhouding gesond te hou, belê in mekaar se groei na liggaam, siel en gees. Vandag se teks sê: doen alles in jou vermoë om dit wat jou huwelik kan skade aanrig, te vermy.
 
En ja, op hierdie terrein het baie van ons al langs die pad in versoeking geval. Jesus het nie die doodstraf voorgeskryf vir ons nie. Hy het juis ons oortredinge op Hom geneem, en die prys daarvoor klaar betaal. By Hom is daar genade, en vergifnis beskikbaar. Hy was ons skoon, Hy maak ons nuut. Hy kan ook ons stukkende huwelike weer heel maak, waar albei partye gewillig is om te vergewe, en oor te begin.
 
Gebed: Here, dankie dat U my 'n mens met 'n liggaam, siel en gees gemaak het. Dankie dat u plan vir my lewe juis lewe in oorvloed is, en help my om daarom na liggaam, siel en gees U en my naaste te dien. Amen.