Ewald Schmidt
 
“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” Matteus 5:17-20, 1983-vertaling
 
Jesus het sy dissipels 'n nuwe manier van lewe kom leer. Die Matteus-evangelie se eerste lesers was meestal Jode. Hulle is van kleins af in die Wet van Moses onderrig (die Torah). Jesus lig die probleem in Matteus 5:20 uit – hulle het die Fariseërs en skrifgeleerdes van destyds se weergawe daarvan van kleins af ingekry. Hierdie kerkleiers het die wet interpreteer, en sommer hulle eie klousules bygevoeg. Hulle boek vol interpretasies van die Wet word die Mishnah genoem. Hulle het die mense geleer dat die pad terug na God toe 'n stel reëls is wat 'n mens net goed genoeg moet nakom. Daar is baie gemaak van die letter van die wet, dit wat op papirus of perkament geskrywe staan. Maar die gees van die wet is nie in berekening gebring nie. Een so 'n voorbeeld was dat 'n man nie op die Sabbatdag met sandale mag loop waarvan 'n spykertjie los is nie, anders ploeg jy, en so is jy besig om te werk. Dit was menslik onmoontlik om al die reëls te onthou en na te kom, en dit het mense laat dink dat God onbereikbaar ver is.
 
Wanneer ons die tien gebooie lees, dan begin Eksodus 20:2 deur eers te vertel van die verlossingswerk wat die Here doen – Hy het sy kinders uit slawerny bevry uit Egipte. Hy is die Here wat verlos. Daarom lewe ons op 'n manier wat getuig dat ons aan Hom behoort. Die wet is gegee om onderskeid te tref tussen die lewenswyse van gelowige mense teenoor dié van ongelowige mense. Die gesindheid van die wet was gerig op die verhouding met God (eerste vier van die tien gebooie) en dan teenoor die naaste in die laaste ses gebooie.
 
Deur die bladsye van die Ou Testament sien ons verhaal op verhaal van menslike ongehoorsaamheid. Die mens kon, of wou nie die wet onderhou nie. Die mensdom is maar geneig om ons lewens op ons eie voorwaardes te wil lewe. Daarom het ons Here Jesus na hierdie wêreld toe gekom om namens ons die wet te kom vervul. Hy was namens ons volmaak gehoorsaam aan elke eis van die wet. Hy het ook al ons oortredinge van die wet op Hom geneem, en daarvoor aan die kruis betaal. Jesus het die wet die volle betekenis daarvan laat kry – Hy het die Vredevors geword wat die verhouding met God, en met ons naaste kom herstel het. Dit sou met sy dood aan die kruis gebeur.
 
Ons wat in Jesus se voetspore volg, leef uit dankbaarheid vir Hom. Die oorspronklike bedoeling van die wet, om die verhouding met God en met my naaste te kom regmaak, dit het Jesus vir ons kom doen. Nou lei Hy ons deur sy Gees om hierdie gesindheid van die wet met vreugde uit te leef. Ons kom nie 'n stel reëls na om gered te word nie. Ons leef in verhouding met ons Here Jesus, en Hy lei ons deur sy Gees om ons God met ons hele hart, siel en verstand lief te hê, en ons naaste soos onsself (Matteus 22:34-40).
 
Gebed: Dankie Here Jesus, dat my verlossing nie afhang van my nakom van 'n stel reëls nie. Dankie dat U my kom red het om in 'n dinamiese verhouding met U te lewe. Dankie dat u Gees my lei, dat my lewe U sal eer, en my naaste sal opbou, soos die wet dit oorspronklik wou hê. Amen