Ewald Schmidt 

Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Matteus 5:8, 1983-vertaling
 
In die Bybel is die mens se hart baie meer as net 'n orgaan wat bloed deur die liggaam pomp. In die Bybelse tye is dit gesien as die blyplek van ons emosies. Ons stuur steeds hartjies vir die een wat ons liefhet, met die boodskap: my hart behoort net aan jou! Salomo het dit so mooi gesê in Hooglied 4:9: “Jy het my hart gesteel, my beminde bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë …”
 
Die hart is ook waar die mens se morele kompas gesetel is. Dis waar Jesus simbolies bly in die gelowige se lewe. Ons lees egter in die Bybel dat daar baie aanvalle op die hart is. Van nature het die mens na die sondeval 'n kliphart, wat dringend verandering nodig het. Die hart van die mens wat nie aan die Here behoort nie, is in 'n slegte geestelike toestand. Jesus het gesê: “Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.” (Matteus 15:19) Die profete het al gewaarsku teen akute hartversaking. Jeremia het gesê: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?” (Jeremia 17:9)
 
Ons het 'n geestelike hartoorplanting nodig langs die lewenspad. Net die Here kan dit doen. In Esegiël 36:26 lees ons: “Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.”
 
Ons het 'n ontmoeting met Jesus nodig, Hy is die hartspesialis wat hierdie groot verandering in ons lewe kan bring – vanaf 'n klipharde hart wat net vir myself klop, na 'n hart van vlees wat warm vir die Here en vir my naaste klop.
 
Wanneer Jesus beheer van ons lewe oorneem, dan verander ons harte, en ons gedrag daarmee saam. Jesus het dit ook in Matteus 12:35 gesê: “Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.”
 
Mag ons harte warm klop vir die Here. Mag dit ons lewenswyse verander, dat ons 'n hart sal hê vir die mense wat die Here in ons lewe plaas.
 
Gebed: Here, saam met Dawid wil ek vanoggend bid: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Psalm 139:23-24) Amen