Ewald Schmidt 

Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.  Matteus 5:7, 1983-vertaling
 
Dit wat 'n mens saai, sal jy maai. Dit is een van die basiese reëls van bestaan op ons planeet.
 
Ons lees in Genesis 3 hoe die wêreld begin ontspoor het. Selfsug, haat en geweld het deel geword van die mensdom se verhaal. Mense maak mekaar seer, met wrede woorde, met onbedagsame optrede, en in ekstreme gevalle, met kriminele dade. Daar is so baie mense wat met seer rondloop oor die optrede van 'n medemens langs die lewenspad. Elkeen van ons het sulke herinneringe in ons lewe, waar ander ons seergemaak het. Dit is in ons menslike aard om dan terug te wil slaan, en ons wil graag die beginsel van 'n oog vir 'n oog in aksie sien. As jy my seergemaak het, dan moet jy ook ly. Dit is presies waarom die wêreld lyk soos wat hy nou lyk.
 
Ons is dissipels van Jesus, besig om deur sy woorde gevorm te word tot koninkryksburgers wat die wêreld 'n beter plek maak. Ons is mense wat die barmhartigheid van ons Here Jesus self ontvang het. Hy het ons op die naam geroep om Hom te volg. Hy het ons nuwe mense kom maak. Hy het ons al ons sonde vergewe. Hy het goeie saad in ons lewe gesaai.
 
Wanneer die vrug van die Heilige Gees in ons lewe begin opkom, dan raak dit die manier waarop ons na ons naaste kyk. So baie mense het seer. Ons word geroep om meer te doen as om nie seer te veroorsaak nie. Barmhartigheid is om met Jesus se oë na ons naaste te kyk, en dan sy hande te wees wat help waar ons kan. 'n Mooi definisie van barmhartigheid is dat dit omgee is wat oorgaan in aksie. Ons word kanale van God se goedheid na die mense rondom ons. Dit is nie 'n maklike roeping nie, in die proses offer ons so dikwels onsself op in diens van ander. Dit vra gereeld van ons om te vergewe, om onreg te verduur. Dit vra van ons om uit ons pad uit te gaan om ons naaste in nood te help, soms onder gevaarlike omstandighede. Ons doen dit omdat Jesus aan ons barmhartigheid bewys het. Barmhartigheid maak die wêreld 'n baie meer leefbare plek.
 
Die belofte wat Jesus gee, is dat mense wat barmhartigheid uitleef, dit ook kan verwag in hulle uur van nood. In 'n gesonde geloofsgemeenskap dra ons mekaar se laste. Wanneer dit goed gaan, is ons in 'n posisie om barmhartigheid te bewys aan ander. Wanneer ons dit nodig het, bewys ander barmhartigheid aan ons. So bou die liggaam van Christus homself in liefde op.
 
Gebed: Here, dankie dat U aan my barmhartigheid bewys het. Dankie dat U my gered het, en my 'n nuwe lewe gegee het. Dankie dat ek u voorbeeld mag volg, en dat ek geroep word om u barmhartigheid uit te deel waar ek gaan. Help my om goeie saad te saai in die mense rondom my se lewe. En waar ek soms in moeilike tye verkeer, dankie vir die barmhartigheid van ander gelowiges wat my versorg en dra. So word u sorg en u liefde sigbaar in die wêreld rondom my. Amen.