Ewald Schmidt

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.  Matteus 5:9, 1983-vertaling
 
Daar is so baie vlae en baniere waaronder mense deesdae laer trek. Terwyl ek hierdie skryf, is die president van Iran pas dood in 'n vliegongeluk, en almal wonder: wat het nou eintlik gebeur? Die skrikwekkende tonele uit Gasa duur voort, die haat tussen Israel en Hamas is vernietigend na albei kante toe. Universiteite oor die wêreld kies 'n kant, en slaan tente op. China vaar rondom Taiwan met hulle vloot en maak dreigemente. Rusland is steeds besig om Oekraïne aan te val met golf na golf van jong soldate wat in 'n koeëlreën instorm. In hierdie konflik is albei kante Christene, meestal uit die Ortodokse tradisie. Haat, geweld, weerwraak en oorlog is die nuus wat nou domineer.
 
Jesus het juis na hierdie wêreld toe gekom om te sê: dit hoef nie so te wees nie! Hy het juis na hierdie wêreld toe gekom as die Vredevors (Jesaja 9:5) Hy het gekom om die gevaarlikste konflik te kom ontlont – die mens se oorlog teen die Here. Hy het ook 'n nuwe lewenswyse vir sy dissipels kom leer. Ander gelowe mag dalk heilige oorloë bepleit, Jesus het ons beveel om ons naaste so lief soos onsself te hê. (Matteus 22:39) Hy het dit selfs nog moeiliker gemaak toe Hy gesê het ons moet mekaar liefhê soos wat Hy ons liefhet. (Johannes 13:34)
 
Die Bergrede (Matteus 5-7) inspireer ons om te begin vra: hoe kan hierdie wêreld 'n beter plek wees? Watter verskil kan ek maak? Die plek om te begin is in ons eie gedagtewêreld. Hoe sien ek die mense rondom my? Ons kan so maklik vaskyk in die verskille tussen mense. Ons kan ander mense so bedreigend ervaar, en van nature oorgaan in 'n verdedigingsposisie. Jesus het ons kom leer om met nuwe oë na die mense rondom ons te kyk. Die Here is ook vir hulle lief. Ons word geroep om nie net die persoon te respekteer omdat Jesus vir hulle ook gesterf het nie. Ons word geroep om hulle aktief lief te hê. Ek dink dit beteken om hulle te probeer verstaan. Om vir hulle te begin bid, en met my woorde en dade hulle lewens op te bou dat hulle iets van die liefde van Jesus by my sal sien.
 
Wanneer ons soos Geesvervulde mense teenoor mekaar optree, met die vrug van die Gees wat na ander uitgedeel word, dan verander die wêreld. Êrens moet ons die vrug van die sondige natuur begin oorwin, dit vernietig die wêreld.
 
Jesus is die Vredevors, wat stukkende verhoudings kom herstel het. Ons word geroep om in sy voetspore te volg, en na sy beeld hervorm te word (2 Korintiërs 3:18). Wanneer ons vredemakers is, sal die wêreld ons as kinders van God herken.
 
Gebed: Here, gee ons u vrede. Stuur my dan uit om 'n vredemaker te wees, soos Jesus. Amen.