Vers n dag - 11 April 2012
Jesus se opstanding gee ons hoop!
Quintus Heine
1 Pet 1: 3,4 ”Aan God die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ʼn lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelkte erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.”
Jesus Christus se opstanding het ons lewens verander. Dit het gemaak dat ons nie net ‘n verlede het nie, maar ook ‘n toekoms. Indien ons sê dat ons glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het, is dit ‘n uitspraak van ‘n gebeurtenis in die verlede. Indien ons sê ons het hoop, is dit wat ons van Jesus in die toekoms glo.
Geloof in Jesus se kruisdood beskryf ons verlede en die nuwe begin. Hoop in Jesus beskryf ons daaglikse voortsetting van ons nuwe lewe en ons nuwe toekoms. Ons geloof kan net hoopvol wees as ons glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. Geloof en hoop is onlosmaaklik aan mekaar vas. Die een kan nie sonder die ander!
Na die opstanding van Christus leef ons in die tyd van Hoop! Die opstanding is vir die Christen ʼn werklikheid wat gebeur het. Dis ook die hoogtepunt en die simboliese beginpunt van ons as Christene se nuwe lewe! Dit is een van die hoekstene van ons geloof! Sonder hoop sal ons nie kan glo nie.
As jy sê jy glo – dan is dit omdat jy vashou en vertrou dat Jesus reeds vir jou sondes betaal het.
As jy sê jy het hoop, is dit omdat jy vertrou dat die Here in die toekoms steeds koning in jou lewe sal wees en jy deel sal kry aan sy erfenis.
Jy sien, hoop is ʼn vertrouens uitspraak in die toekoms! Maar dit begin nou reeds. Jy het nou reeds hoop in al jou omstandighede! Jy vertrou dat Jesus elke dag met jou sal leef. Dit is ʼn vertroue dat jy jou lewe, jou land, jou gesin, ja alles, in die hande van Koning Jesus kan los. Jesus se opstanding het vir gelowiges ‘n nuwe toekoms gegee, die toekoms dat hulle sal lewe, al gaan hulle liggame sterwe.
Daar is net een oorsaak van die Christelike hoop en dit is die opstanding van Jesus. Sonder die opstanding het ons ‘n sonder hoop (hopelose) geloof. Jesus het die bande van hooploosheid - naamlik, die dood, gebreek.
Gebed: Here dankie dat ons hoop en ‘n toekoms het, want U het opgestaan uit die dood!