Vers n dag - 12 April 2012
Jesus se opstanding gee vir jou 'n lewenddoel
Quintus Heine
Johannes. 20:19, 20 “Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: "Vrede vir julle!" Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
Die animasiefilm “ Finding Nemo” het destyds die wêreld aangegryp. Indien jy dit nog nie gesien het, dis die moeite werd om te kyk!
In die film is daar 'n aangrypende oomblik. Die klein Nemo is in 'n visbak by die tandarts vasgevang - baie moedeloos. Hy besluit daar is vir hom geen hoop nie. Toe gebeur dit dat die pelikaan by die tandarts se venster die nuus bring dat Nemo se pa hom soek en besig is om Sydney toe te swem om hom te red! Net daardie stukkie nuus was vir Nemo genoeg! Skielik verander sy hele gesindheid. Hy is weer lus om te veg en planne te maak om daar weg te kom - wat hy ook reggekry het! Wat het sy gesindheid so verander?
Die boodskap dat sy pa na hom soek en nie sal moed opgee totdat hy gevind is nie! Dit het hom hoop gegee en 'n nuwe doel om te lewe.
Ons lees in die Bybel hoedat Jesus se dissipels na sy dood baie mismoedig was. Hulle het gedink alles waarvoor hulle geveg het en waarvoor Jesus gestaan het, was tevergeefs! Niks was nou meer die moeite werd nie! Die boodskap van hoop het met Jesus se dood verdwyn!
Toe verskyn die opgestane Jesus aan hulle en hulle besef: Hy het werklik opgestaan uit die dood soos Hy belowe het. Dit het hulle hele lewensuitkyk verander. Skielik is hulle bereid om doelgerig die wêreld in te gaan en van Jesus se redding te vertel!
Wat het dit verander ? Hulle het besef dat Jesus se beloftes waar was, dat Hy werklik opgestaan het en die bande van die dood gebreek het. Nou het hulle iets om doelgerig voor te leef. Van toe af was die dood nie meer die einde nie, maar 'n nuwe begin.
Gebed: Here Dankie dat U opgestaan het uit die dood. Dankie dat hierdie boodskap my moed gee om elke dag doelgerig vir U te werk.