Vers n dag - 10 April 2012
Die opstanding van Jesus is die DNS van die Christendom
Quintus Heine
Paastyd begin met Goeie Vrydag en Paassondag en duur tot by Hemelvaartdag. Dit is die tyd in die Christelike jaar waar Christene nadink oor die opstanding en die impak wat dit op hul lewens het. Die opstanding is die geboorte van die Christendom.
1 Kor. 15:17-18 “ As Christus nie opgewek is nie , is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook die die wat in Christus gesterf het verlore”
“Die evangelie van Jesus Christus is 'n opstandingsevangelie. Die opstanding vorm die hart van die Christelike verkondiging, geloof, lewe en teologie.” (Dirkie Smit). Die opstanding maak die Christelike geloof uniek. Dit onderskei die Christendom van ander godsdienste! Sonder die opstanding word die Christendom maar net nog ‘n godsdiens of filosofie met ‘n klomp leerstellinge en hoë sedelike waardes! Dit is juis die opstanding van Christus wat aan elkeen van ons 'n lewensveranderende krag skenk. Om te glo in die opstanding van Jesus Christus, het tot gevolg dat gelowiges 'n nuwe uitkyk en 'n nuwe toekoms in die lewe het.
Dit maak dat gelowiges ‘n ander uitkyk op die lewe het as die nie gelowiges. Dit beteken natuurlik nie dat so ‘n nuwe lewe die swaarkry, pyn en hartseer van die lewe gespaar is nie, maar dit gee die lewe meer sin en betekenis. Dit maak dat die dood nie die einde van die pad is nie, maar ‘n nuwe begin. Jesus het waarlik opgestaan en vooruitgegaan om vir ons plek voor te berei in ‘n nuwe wêreld wat op ons wag!
As jy nie glo aan die opstanding nie, eindig jou lewe in hierdie wêreld met al sy swaarkry en hartseer! Dan is daar vir jou geen lewe hierna nie. Dit is die opstanding wat die Christendom so ongelooflik uniek en opwindend maak! Loof Jesus hiervoor!
Gebed: Dankie Here dat u die bande van die dood gebreek het met die opstanding. Dankie dat u ons lewe sinvol gemaak het .
Christus het op die eerste dag van die week (Sondag) opgestaan uit die dood. Hierna het Christene op die eerste dag van die week bymekaarkom voor hulle gaan werk en saam die Here geloof deur gebed, sang en bestudering van die Skrifte. Aanvanklik was Sondag (eerste dag van die week) ‘n gewone werksdag. Dit is eers in Konstantyn se tyd (321NC) dat die Sondag 'n amptelike geestelike dag geword het waarop mense nie moes werk nie. Nou kon hulle saam deur die dag bymekaarkom om die opstanding van Jesus te vier.