Vers n dag - 5 April 2012
Jesus in die tuin van Getsémané-4
Quintus Heine
45.Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. 46.Hy sê toe vir hulle: "Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie." Lukas 22:45,46
In vers 39 word die gedeelte in die tuin van Getsémané begin met Jesus se opdrag aan die dissipels dat hulle moet bid. Aan die einde van Jesus se tyd in die tuin (vers 46) gee Hy hulle weer die opdrag om te bid. Die dissipels moet bid dat hulle nie in die versoeking kom nie. Jesus het geweet wat op hulle wag . Hy het geweet dat dit net hulle gebed sou wees wat hulle staande sou hou. Al was Jesus volmaak, was 'n spiritualiteit van gebed vir Hom noodsaaklik.
Ek het my al in tye van groot krisis spesiaal afgesonder om te bid en die wysheid van die Here te soek en geweldige geloofversterking ontvang. Ek dink as mense meer bid, sal hulle beter die versoekings van die wêreld en die krisisse wat oor hul pad kom, kan hanteer. Gebed is 'n lewenshouding van afhanklikheid van God. Gebed is om ons afhanklikheid aan Hom te erken. Hoe meer ons bid, hoe groter is ons erkenning dat ons nie self iets kan bereik nie, maar dat ons van God afhanklik is. As ons heeltyd in afhanklikheid van God leef en bewus is van sy teenwoordigheid, sal ons die versoekinge en krisisse wat oor ons lewenspad kom, dalk beter kan hanteer. Jesus waarborg nie dat ons vrygespreek sal word van al die hartseer en sonde van die wêreld nie, maar Hy gee aan ons die opdrag om te bid dat ons die versoekinge wat oor ons pad gaan kom en die hartseer en die vreugdes in afhanklikheid van God sal kan hanteer.
Gebed: Dankie, Here dat ons in hierdie tyd voor die kruisigings dág onsself kan verootmoedig in gebed sodat ons geestelik sterk kan wees om die aanslae van die lewe te hanteer.
Môre vier ons Goeie Vrydag – die dag waarop Jesus vir al ons sondes gekruisig is. Dit is 'n dag van stilte en gebed. Dit is 'n dag in die jaar waar ek en my gesin vir mekaar weer die verhaal van Jesus ons verlosser vertel. Jesus het drie dae daarna opgestaan en die bande van die dood finaal verbreek. Daarom vier ons Christene eerskomende Sondag, Opstandingsdag want dis die herdenking van ons nuwe lewe in Christus.