Vers n dag - 4 April 2012
Jesus in die tuin van Getsémané : 3
Quintus Heine
Lukas 22:43,44 .'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. 44.Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.
Hierdie vers laat elke Christen stil word van ontsteltenis. Kan dit wees dat Jesus soveel angs en worsteling vir my en jou moes verduur? Jesus was bang. So bang dat sy sweet soos bloeddruppels geword het. Dit wat Lukas hier beskryf, staan in die mediese wetenskap bekend as “hematidrosis”. Dit is ‘n rare verskynsel waar iemand bloed sweet as hulle doodsangs beleef. Daar is voorbeelde opgeteken van mense wat op die doodvonnis wag wat ook die toestand beleef het. Naby die sweetkliere is daar klein bloedvaatjies wat soos 'n netwerk onder die vel span. Onder baie hoë angstoestande kan hierdie aartjies bars. Die bloed wat dan met die sweet meng, het tot gevolg dat iemand bloed sweet. Die angs wat Jesus beleef het, moes onuithoudbaar gewees net. Hy het die sondelas van die mensdom gedra. Sy hele gemoed en wese sou daaroor in spanning wees. Dit moes so erg gewees het dat God 'n engel gestuur het omdat Hy geweet het dat Jesus bygestaan moet word.
Dink net hoeveel seer en wroeging moes dit vir God gewees het om sy kind so te sien swaarkry. God het die mensdom so lief gehad dat Hy sy seun die straf van die sonde gegee het sodat ek en jy deel kan hê aan die ewige lewe!
Dit is in hierdie omstandighede wat Joh. 3:16 vir ons elkeen 'n werklikheid word. Kan dit wees dat ek en jy nie hierdie wonderlike uitnodiging ernstig opneem nie
Joh. 3:16 “"God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Waar jy jou ook al nou bevind, word stil voor God, dink daaraan dat Hy dit vir jou gedoen het-
Gebed: Here – in die lydenstyd voel ek ellendig dat U soveel pyn vir my moes verduur- Dankie, dat U vir my so oneindig lief het, dat U Jesus Christus se lewe vir my laat offer het! Ek gee my lewe weer opnuut aan U!