Vers n dag - 3 April 2012
Jesus in die tuin van Getsémané 2.
Quintus Heine
Luk. 22:41,42
“41.Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: 42."Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!"
Ons almal het al in 'n fliek of televisiereeks gesien hoedat ‘n onskuldige persoon soms moet boet vir die skuld van 'n ander. Gewoonlik is dit vanweë 'n tegniese regsfout of vals getuienis dat 'n onskuldige persoon die skuld ontvang vir 'n ander se dade. In so 'n geval word jy as kyker baie diep ongelukkig vir die onreg wat die onskuldige aangedoen word. As ons op so manier daarna kyk, maak dit ons opnuut skaam oor Jesus se onskuldige lyding in ons plek. Hy het onreg gely sodat ons vry kan leef. Hy het gewillig in ons plek die lydensbeker gedrink. Ons wat soms so vies vir onreg in die wêreld is, is die skuldiges, maar Hy het gewillig die skuld op Hom geneem. Jesus het hierdie lydensbeker gedrink sodat ons lyding draagliker kon wees.
Met hierdie gebed van Jesus is sy menslikheid en nederigheid beklemtoon. Filippense 2:7 help ons om te verstaan dat Jesus mens was en nederig was. Hy het nie aan sy Godheid vasgeklou nie, maar het Homself verneder deur aan mense gelyk te word. Hy het nie sy Godheid gebruik om Hom van die lyding te verskoon nie. Toe Jesus hierdie gebed gebid het, moes Hy besef het, Hy doen dit sodat ons lyding draagliker sou wees. Dat ons lyding nie die einde is nie maar dat ons hoop kan hê.
Dit is met huiwerige dankbaarheid dat ons vandag vir God loof dat ons lyding aan die sonde betaal is, dat Jesus die lydensbeker gedrink het en dat ons lyding en krisisse nie ons einde beteken nie. Jesus het reeds daarvoor gely. Dit is ironies dat sy lyding vir ons hoop gee. In die lydenstyd is dit vir ons as Christene seer om daaraan te dink!
Gebed: Here – ons woorde raak tussen ons trane weg as ons vir u wil dankie sê dat ons kan hoop – dat U vir ons gely het!