Vers n dag - 2 April 2012
Lydenstyd: Jesus in Getsemane 1
Quintus Heine
In hierdie week voor Goeie Vrydag, – gaan ons elke dag terugdink aan hierdie aangrypende toneel wat hom in die tuin van Getsémané afspeel.
Die aand voor Jesus gevange geneem is, het Hy en sy dissipels na die tuin van Getsémané gegaan. Oorkant die Kedronspruit was daar ‘n olywetuin met ‘n olyfpers. Getsémané beteken dan ook olyfpers. Die eienaar het blykbaar vir Jesus toestemming gegee om dit te gebruik, want hier word vermeld dat Jesus die gewoonte gehad het om daar te kom. In Joh 18:2 word ook genoem dat Jesus en sy dissipels gereeld die tuin besoek het. Jesus was bewus wat daar sou gebeur. Hy was ‘n jong man van 33 jaar en bang wat vir hom sou wag. Dit is hier in die tuin van Getsémané waar Hy die laaste sielestryd met God sou stry om sy wil te probeer verstaan! Daar is min historiese gebeurtenisse wat die Christendom so aangryp, soos die een in die tuin van Getsémané.
Lukas 22:39-40 39.Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. 40.Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: "Bid dat julle nie in versoeking kom nie."
Dit is vir my aangrypend dat Jesus se eerste daad in die tuin van Getsémané, die van gebed is. Dit is in sulke oomblikke wat jy aan die belangrikste persoon in jou lewe dink. Vir Jesus was dit God. Toe Hy doodsbenoud was, was sy eerste gedagte om tot God te bid. Jesus wat volmaakte mens was het ‘n behoefte gehad om te bid. Hy wou met sy Vader praat, sy hart met Hom deel. Hy wou vir sy Vader vertel dat Hy bang is. Hy wou in die oomblik van angs God aanroep!
Die gedagte aan sy dissipels se swakheid moes die las vir Jesus die nag nog swaarder gemaak het. Jesus moes bewus gewees het van die feit dat die woede van die Sanhedrin nie net vir Hom sou tref nie , maar ook sy dissipels, daarom dat hy aan hulle geestelike krag dink in die uur van sy eie nood en versoek Hy hulle om ook vir hul eie geestelike lewe te bid. Met Jesus se eie gebedsvoorbeeld en sy uitnodiging aan sy dissipels om vir hulself te bid, is dit ook die uitnodiging vandag aan ons : Ons moet nie huiwer om God deur gebed aan te roep in ons lewens nie. Dit moet ook die eerste wees wat ons elke dag doen, dit moet die eerste wees wat ons doen as ons bang is, wat ons doen as ons opgewonde is.
Gebed: Dankie Here dat ons enige tyd, in enige omstandighede tot U kan bid.