Imogen Campbell 

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. 1 Johannes 3:1a, 1983-vertaling
 
Vir my persoonlik bevat hierdie teksvers groot nuus, die spreekwoordelike goeie nuus van die Bybel. Sondaars wat heeltemal uitval wanneer dit by geregtigheid kom, kry 'n tweede kans. Ons word deel van God se familie. Ek dink nie daar is beter nuus as dit nie.
 
As Christene in 'n nuwe bedeling ervaar ons die God van Israel, word ons mede-erfgename met Israel, die volk aan wie die beloftes oorspronklik gemaak is. Ons het uit daardie olyfboom voortgespruit en ons geniet ook al die seëninge. Dit is nie iets om ligtelik of as vanselfsprekend te ag nie. In my hart sing ek Halleluja. Wat van jou?
 
Die God van Israel is wonderlik. Hy verbreek nooit sy beloftes nie. Dit mag tyd neem om vervul te word, maar sy Woord is waar. Hy het Jakob se oupa, Abraham, beloof dat Hy hom die vader van baie nasies sou maak. Op die ouderdom van 99 het Abraham God gevra of die belofte nie deur sy seun, Ismael, vervul kon word nie. Abraham het vir homself gelag want hy het gedink sy liggaam is so goed as dood. God het egter nee gesê; die belofte sou deur Abraham se ou liggaam waar word.
 
Sara, Abraham se vrou, het ook gelag. Hedendaagse vroue sal ook lag. Sara het ontken dat sy gelag het, maar God het gesê sy het definitief gelag. En Hy weet dinge soos dit. 'n Jaar later, toe Abraham 'n 100 jaar oud was, het God sy belofte gestand gedoen. 'n Bondeltjie vreugde het gearriveer. Maar nie voordat God die finale sê gehad het nie. "Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik 'n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.” (Genesis 18:13-14)
 
Party van ons moet miskien tans ernstige uitdagings in ons lewens oorkom. Omstandighede mag miskien desperaat en hopeloos lyk. Laat ons egter nooit die God van Abraham, Isak en Jakob vergeet nie. Niks is onmoontlik of te moeilik vir God nie.
 
Lukas 1:37 (2020-vertaling) in die Nuwe Testament stel dit so mooi: "want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” Met ander woorde, wanneer God iets gesê het, kan ons dit volkome vertrou. In 'n wêreld vol onsekerheid, is die sekuriteit wat ons in God het absoluut verbysterend.
 
Gebed: Almagtige God, waarlik U is almagtig. Ons loof u Naam en dank U vir al die seëninge wat ons as u kinders, u seuns en dogters, ontvang. Amen