Imogen Campbell 

Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” Handelinge 2:39, 1983-vertaling
 
Wanneer ons vandag die woord "beloftes" oor en oor sê, soos in beloftes, beloftes, beteken dit dikwels dat jy nie regtig 'n persoon glo nie. Ons is sekerlik almal, danksy politici asook enigiemand wat nie 'n belofte ernstig opneem nie, moeg van onvervulde beloftes.
 
Die mens van vandag wyk definitief af van die belangrikheid wat voorheen aan 'n mens se woord geheg was – toe jou woord nog jou woord was. Jou woord was alles. Deesdae word 'n reputasie bestuur en integriteit word op die agtergrond geskuif. Ons is nie meer verbaas wanneer iemand 'n leuen vertel nie. Dit blyk die aanvaarbare manier te wees en die waarheid verdwyn soos mis voor die son. Tog, wanneer God 'n belofte maak, bedoel Hy dit.
 
God het nog altyd 'n plan vir die wêreld gehad. En hierdie plan het vinnig spoed opgetel die dag in Jerusalem toe Jesus vir sy dissipels gesê het om te wag vir die gawe wat die Vader beloof het en so is die era van die Kerk amptelik ingelei. Dit het afgespeel in die stad Jerusalem, baie naby aan die ou Stad van Dawid.
 
Die Loot uit die wortel van Isai het opdragte gegee oor hoe sy belofte uitgevoer moes word daar naby die huis van een van die grootste konings van Israel, koning Dawid. Volgens plan het die ware Koning van Israel daardie stofstrate bewandel, is Hy verhoor – 'n verhoor wat deur baie geleerdes as onwettig beskou is – en tussen diewe gekruisig.
 
Dit alles omdat Hy geweet het daar is 'n plan, 'n belofte wat vervul moet word. Hy het gewone mense toegelaat om sy klere uit te trek, Hom te slaan, op Hom te spoeg, Hom te bespot – en Hy het nie daarop gereageer nie want Hy het geweet wat Hy belowe het. Hy het geweet dat baie wat die waarheid geprofeteer het, verwerp is. Weer eens het Jerusalem nie net 'n profeet verwerp nie, maar hierdie keer God self. Jesus weeklaag: “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!" (Matteus 23:37)
 
Ten spyte van alles het Hy nooit opgegee op Jerusalem, die volk Israel, en op die wat nog moes kom nie. Hy het nooit onder druk of 'n gebrek aan liefde geswig nie. Hy het net vasbeslote aangegaan.
 
Saam met almal om die troon in Openbaring kan ek ook net sê: "Die Lam wat geslag was, is waardig ..."
 
Lees Openbaring 5:11-12: "Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge 'n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor uitroep “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.” Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”
 
Gebed: Hemelse Vader, ons kan maar net die woorde van die menigte in die hemel beaam en wag en sien hoe u plan onder die menigtes hier op aarde uitgevoer word. Amen