Imogen Campbell
 
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. Filippense 2:9-11, 1983-vertaling
 
Shakespeare het op 'n keer geskryf: "A rose by any other name would smell as sweet." So, wat is daar in 'n naam? Kom ons kyk na die geval van die oudste en belangrikste tennistoernooi op 'n grasbaan wat jaarliks by die "All England Lawn Tennis & Croquet Club" gehou word. Dit staan doodeenvoudig as Wimbledon bekend.
 
Die naam alleen laat 'n mens dink aan bekendes, koninklikes, reën en natuurlik aarbeie en room. Dit is sinoniem met uitnemendheid en elegansie, terwyl tradisie en koninklike beskerming dit met 'n ongeëwenaarde sofistikasie laat spog. Duidelik, name definieer plekke!
 
Wat van mense? God het nie weggeskram om sleutelpersone in die Bybel se name te verander nie. In daardie dae het name spesifieke betekenis gehad: name het dikwels onder andere na 'n aspek van 'n persoon se karakter verwys, iets van God se boodskap aan die mense gekommunikeer, of iets van 'n diepgaande verandering in 'n persoon se lewe of karakter weergegee.
 
Vandeesmaand het ons opnuut gekyk na hoe Abram en Sarai Abraham en Sara geword het. In die Nuwe Testament is 'n spesifieke naam aan die voorloper van die Messias, Johannes die Doper, gegee terwyl die aardse vader van God se Seun seker gemaak het dat hulle Hom Jesus noem.
 
'n Belangrike figuur in die Nuwe Testament het ook 'n naamsverandering ondergaan: Simon het Petrus geword. (Matteus 16:18). Saulus is ook al hoe meer Paulus genoem. En eendag sal nuwe name ook aan gelowiges gegee word: "... en Ek sal vir hom 'n wit klippie gee, ja, 'n klippie waarop 'n nuwe naam gegraveer is, en wat niemand anders ken nie, behalwe die een wat dit ontvang.’ ” (Openbaring 2:17, 2020-vertaling)
 
Op die ou einde blyk dit dat die belangrikste aspek van naamgewing is wat God daaraan toeskryf. Jesus se Naam is so kragtig, Hy antwoord op dit wat ons vra in sy Naam. "Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Johannes 14:13-14)
 
Ons is bestem om te buig voor die hoogste Naam in die skepping en aan die einde van tyd sal die ganse mensdom voor Hom buig. Wanneer ons bely dat Jesus die Here is (Romeine 10:9-10) doen ons dit in die Naam van die Seun. Ongelooflik om te dink dat wanneer hierdie lewe verby is, sal ons nuwe name hê om by ons nuwe hemelse liggame te pas. Wonderlik!
 
Gebed: Dankie, Here, dat U elkeen van ons by die naam ken en dat U ons ingesluit het by u plan om u Naam te verheerlik. Ons dank U en bid dit alles in Jesus se Naam. Amen