Imogen Campbell 

Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”   Johannes 19:30a, 1983-vertaling
 
Israel, die plek wat Jesus gekies het om sy lewe op aarde deur te bring, het tradisioneel 'n belangrike plek onder die nasies ingeneem. Dit is bestem om met die verloop van tyd weer die middelpunt te word.
 
Dit is dus geen wonder dat 'n plek wat die God van die heelal gehuisves het, bestem is om ongevraagde aandag te kry nie. Die duiwel het definitief ook sy visier gerig op Israel. Reeds tydens die versoeking van Jesus lees ons in Lukas 4:9-12 die volgende: " Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: “As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm, “en ook: “Op hulle hande sal hulle jou dra sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
 
Die duiwel het met mening aangeval – hy wou juis daar by die tempel van alle plekke Jesus se identiteit bevraagteken. Interessant genoeg, daar word nie veel oor Jesus se kinderjare gesê nie, maar in die gedeeltes wat dit wel doen, word daar prominent na die tempel verwys.
 
Eendag, aan die einde van tyd, sal 'n harde stem uit die tempel vir ons 'n aanduiding van die verloop van die profetiese tydrooster gee. Openbaring 16:16-17 (2020-vertaling) sê: "Die geeste het die konings byeengebring by die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word. Toe het die sewende engel sy bak in die lug uitgegooi. Uit die tempel, van die troon se kant af, het 'n harde stem uitgeroep: “Dit is afgehandel!”
 
“Dit is afgehandel!” herinner my aan Jesus se woorde buite Jerusalem: "Dit is volbring". Dit laat my ook dink aan die woorde reg aan die begin wanneer ons in Genesis 2:2 lees: "Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk ..." 
 
Dit is baie duidelik dat ons 'n God dien wat dit waarmee Hy begin het, sal voltooi. Aan die einde van tyd, by 'n plek wat Armageddon of Har-Megiddo genoem word, sal die finale stryd plaasvind. Vandag word 'n plek in Israel bekend as Tel-Megiddo op die vlakte van Jisreël as die moontlike plek aangewys. Dit is kontroversieel en geleerdes is baie verdeeld hieroor. Net tyd sal leer.
 
Die vlakte van Jisreël was 'n plek van baie gevegte. Dit was onder andere die plek waar Debora en Barak 'n oorwinning behaal het. (Lees Rigters 4 en 5) Jael, 'n vrou soos daar geprofeteer is, het Sisera, die hoof van Jabin (die koning van Kanaän) se leër, doodgemaak. Ten spyte van sy 900 ysterstrydwaens, is sy hele leër in verwarring gebring en Sisera het reguit in Jael se hande in gevlug.
 
Dit is ook daar dat Gideon met slegs 300 manskappe die Midianiete verslaan het. Modus operandi? Ramshorings, kruike en fakkels. Eendag, wanneer die geklank van die trompet gehoor word, sal die geveg van alle gevegte plaasvind. Hierdie keer sal die God van Israel egter terugkom na die aarde om sy vyande te verslaan en vir altyd met die duiwel klaar te speel.
 
Gebed: U woord gee sin aan die wêreld waarin ons woon en die uitdagings wat ons moet oorkom. Dankie Here, dat U ons nie alleen en sonder hoop laat nie. Amen