Imogen Campbell 

Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. Galasiërs 6:7-8, 1983-vertaling
 
Die beginsel, wat jy saai sal jy oes, is universeel sowel as bybels. Ek dink ons vergeet soms dat dit wat ons doen gevolge het. Ek het vroeër in die reeks daarna verwys. Ons het na die stamvaders gekyk, veral na Jakob, wie God Israel genoem het.
 
Die volk Israel is stewig in Egipte gevestig met die aantal Hebreërs wat so toegeneem het dat hulle 'n bedreiging geword het. God was egter altyd by hulle, selfs toe hulle tye van verstrooiing, oorloë en vyandigheid moes verduur.
 
Uiteindelik het koning Dawid, uit die geslag van Jakob, die troon bestyg – 'n man na God se hart. Dawid se eie hart het egter in die sonde verstrik geraak en dit het hom verhoed om God se voorskrifte te volg. Skynbaar is niemand immuun teen die sonde nie.
 
Die Bybel skram egter nie weg van die sonde in die lewens van God se diensknegte nie. God het spesifieke voorskrifte vir die huwelik gegee wat ook vir konings gegeld het. (Deuteronomium 17:17), maar selfs volgens daardie standaarde het Dawid baie vrouens gehad. Koning Dawid het die voorskrif net geïgnoreer en hy het, soos die geval dikwels was met konings van ouds, 'n hele harem gehad.
 
Eendag, toe die koning veronderstel was om oorlog toe te gaan, het koning Dawid 'n getroude vrou gesien wat besig was om te bad. (2 Samuel 11) Sy het niks gedoen om die koning uit te lok nie. Sy het ook niks gedoen wat aanleiding gegee het tot die gebeure wat gevolg het nie – bedrog, moord en uiteindelik God se regverdige oordeel wat deur die profeet, Natan, uitgespreek is.
 
“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het. “So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat ... want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.” (2 Samuel 12:7-12)
 
Dawid het 'n probleem met vroue gehad. Oor die jare het hy baie vroue en byvroue gehad. Die insident met Batseba was heel moontlik 'n wekroep. Sy was Dawid se laaste vrou.
 
Ons het bedrog bespreek en die Bybel stel dit duidelik dat ons een ding goed moet verstaan en nie mislei moet word nie: God laat nie met Hom spot nie. Die dag sal aanbreek dat God optree en sy aksie sal gepas wees vir dit wat gedoen is.
 
Gebed: Vader, dankie dat U ons so liefhet dat U ons met ons sondes konfronteer. Niemand kan skotvry wegkom nie, want die sonde het gevolge. Nie eers aardse konings word kwytgeskeld nie. Amen