Imogen Campbell 

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie. Matteus 7:1, 1983-vertaling
 
Jakob se storie laat jou miskien met ernstige bedenkinge, miskien veroordeel jy hom selfs 'n bietjie.
 
Onlangs het die Here my oor hierdie saak aangespreek en die bekende gedeelte in Matteus 7:1-6 is opnuut onder my aandag gebring: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal. “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”
 
In alle eerlikheid, ek het gesukkel om die konsep om nie te oordeel nie te verstaan. Om sonde te vermy moet 'n mens tog weet wat dit is, of hoe? Terselfdertyd word daar gesê dat ons ons nie moet laat mislei nie en dat slegte geselskap goeie sedes bederf. (1 Korintiërs 15:33) Hoe versoen 'n mens dit?
 
Ek moet bely: daar was al tye dat ek "hoog godsdienstig" oor 'n spesifieke saak was. Stel jou voor, 'n stryder wat op sy groot perd ry met 'n aangeplakte glimlag op sy gesig. Hy weet hy is reg en die ander persoon is verkeerd – geen empatie, simpatie of wat ook al nie. Dit is egter nie hoe ek vir Jesus voorstel nie.
 
Dit is juis die probleem. Dit is moontlik dat ons nie uit liefde oordeel of onderskeidingsvermoë aan die dag lê nie, maar dat ons ander veroordeel terwyl ons dieselfde geneigdheid het. Matteus 7:3 is baie insiggewend. Daar is 'n balk in ons eie oog en tot 'n sekere mate verblind dit ons.
 
Hierdie is so 'n treffende analogie. As 'n mens deur jou eie foute verblind word, behoort jy nie rond te gaan en fout te vind met ander wat in dieselfde bootjie is nie. Die feit dat dieselfde maatstaf waarmee ons ander meet ons ook gemeet word, behoort rede tot nugtere nadenke te wees.
 
Om ons sonde te bely, is sekerlik meer gepas. Ongelukkig is die probleem dat ons dikwels godsdienstig verkeerdelik oordeel omdat ons blind is vir ons eie foute.
 
Dit is dus nie ons onderskeidingsvermoë waardeur ons 'n oordeel kan maak, wat hier verbied word nie. Nee, dit is die skynheiligheid wat verdoem word. In Matteus 7:6 is dit duidelik dat dit noodsaaklik is om 'n waarde-oordeel te vel en met waardigheid te oordeel. Om te oordeel is nodig, maar om 'n veroordelende huigelaar te wees is nie. Is dit duidelik?
 
Deur dit alles moet ons egter ons oë gerig hou op die almagtige Een wat aan die einde regverdig sal oordeel.
 
Gebed: Vader, dankie dat U in deernis ons swakplekke aan ons uitwys en help ons om op dieselfde manier met ons broers en susters om te gaan. Amen