Imogen Campbell 

Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat 'n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie. Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.” Genesis 29:26-27, 1983-vertaling
 
Stomgeslaan kon Jakob seker maar net sy kop skud. Bedrog het op 'n keer veroorsaak dat hy van alles wat hy geken het moes wegvlug. Nou, jare later is bedrog weer verantwoordelik vir chaos. Hierdie keer sy troue met die verkeerde vrou.
 
Dit is duidelik dat hy sy gelyke ontmoet het, sy oom Laban, 'n meester manupileerder. Alhoewel hy te na gekom is, het Jakob verplig gevoel om die regte van die eersgeborene te respekteer en nog sewe jaar vir die jonger suster te werk. Daar was geen gekonkel om uit die penarie te kom nie en hy het nie weggehardloop nie. 'n Vrou het haarself bedek en voorgegee om haar suster te wees: 'n perfekte spieëlbeeld van sy eie dade.
 
God het dit as 'n spieël vir hom voorgehou en ek glo dit het nie by Jakob verbygegaan nie. Ten spyte van God se liefde wat hy ondervind het en die voorreg om God se groot plan te ken, wou God steeds hê dat Jakob vrede maak met iets in sy verlede. Dit het groot gevolge vir sy naaste familie en die gemeenskap gehad.
 
Soortgelyke voorbeelde word in Israel se geskiedenis gevind. Saul het op 'n keer die opdrag ontvang om die Amelekiete, die eerste vyande van Israel in die woestyn nadat hulle uit Egipte gevlug het, te verdelg. "Daarna het die Here vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde op in 'n boek as 'n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg.” (Eksodus 17:14)
 
Saul het God nie gehoorsaam nie. Hy het erken dat hy die koning, Agag, gespaar het. Lank na Saul se dood is Jode se koppe weer geëis. Die aanhitser? Haman, die Agagiet – heel moontlik 'n direkte afstammeling van Agag – het die uitwissing van die Jode beplan. Hy het dit ook amper reggekry. Gevolge op nasionale vlak.
 
Al ooit gehoor van Adoni-Besek en sy duime en groottone? Lees Rigters 1:4-8: "Juda het toe gaan veg, en die Here het die Kanaäniete en die Feresiete in Juda se mag oorgegee ... Adoni-Besek het gevlug, maar Juda het hom agternagesit en hom gevang. Hulle het sy duime en groottone afgesny. Toe sê Adoni-Besek: “God het my nou die straf gegee wat ek verdien, want ek het sewentig konings se duime en groottone laat afsny, en hulle moes kos soek onder my tafel.” Juda het vir Adoni-Besek na Jerusalem toe gevat, en hy is daar dood. Juda het teen Jerusalem geveg en dit ingeneem. Hulle het sy inwoners doodgemaak en die stad aan die brand gesteek."
 
Soms is die gevolge van sonde onverwags. Maar soms weerspieël dit die sonde op 'n haar na. Verskriklik of hoe? Weerkaats daar enigiets terug na jou in die spieël van Gods Woord? Ons moet dadelik daarop reageer soos die gedeelte in Jakobus 1:22-25 dit vir ons uiteensit.
 
Die volgende paar dae gaan ons kyk hoe dit in die lewens van Josef en sy familie uitspeel.
 
Gebed: Hemelse Vader, help ons om die sonde in ons lewens ernstig op te neem. Help ons om te verstaan dat as ons nie ons sonde bely nie, dit dodelike gevolge kan hê. Amen