Imogen Campbell 

Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
 
Jakob was op vlug van sy woedende ouer broer wat hy benadeel het, toe hy hom reguit in God vasloop.
 
Jakob, wat so ietwat van 'n huishen was, het hom weg van alles wat vir hom bekend was, bevind. Heeltemal uit sy gemaksone het hy hom onder die sterrehemel met 'n klip vir 'n kussing tuisgemaak.
 
Die plek was 'n klipgooi weg van vandag se Jerusalem. Daardie nag het hy gedroom. Hy het 'n leer gesien wat aan die hemel raak en engele het teen die leer op- en afgeklim. Bo-aan die leer het die Here gestaan en Hy het gesê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak ..." (Genesis 28:13)
 
Die Here het toe vir hom gesê dat Hy die land waarop Jakob lê aan hom sou gee. Hy het beloof om altyd by hom te wees en hom te beskerm. Verder het die Here beloof om hom uiteindelik na die land terug te bring.
 
Toe hy wakkerskrik het Jakob besef dat die Here, teen alle verwagting, op daardie plek was. Die volgende dag het hy die plek Bet-el genoem, wat huis van God beken. Ongelooflik, maar hy het die poort na die hemel gevind. Jakob het toe 'n belofte aan God gemaak wat vir ons in Genesis 28:20-22 opgeteken is. Hy het ook beloof om 'n tiende van alles wat God aan hom gee, terug te gee.
 
Dit is opmerklik dat Jakob se voorsaat, Abram, ook op 'n stadium 'n tiende afgestaan het. Ons lees dit in Genesis 14:18-20: "Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring en hom geseën: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Toe het Abram vir Melgisedek 'n tiende van alles gegee.
 
In die bekende gedeelte in Maleagi 3 lees ons van 'n ongehoorsame volk wat nie vrygewig was nie. Maleagi 3:10 sê: "Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie."
 
Toe beide Abram en Jakob verstaan het dat hulle deur God geseën is, was hulle reaksie om 'n tiende te offer of af te staan. Instinktief het hulle die beginsel van gehoorsaamheid en offervaardigheid verstaan. Deur dit te doen, het hulle vertrou dat die Here sou voorsien en daardeur God geëer. Poorte en vensters van die hemel. Interessant, of hoe dink jy?
 
Gebed: Here, gee aan ons harte wat nie net sal verstaan hoe 'n wonderlike voorreg dit is om deur U geseën te word nie, maar om ook soos die manne van ouds te reageer – gewillig, dankbaar en vrygewig. Amen