Imogen Campbell 

Hy het vir haar gesê: “Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.”  Genesis 25:23, 1983-vertaling
 
In sy boek "Unlocking the Bible" beskryf David Pawson soos volg die eienaardigheid van die eersgeboortereg wat ons reeds vroeg in die Skrif aantref: "Die eerste seun sou normaalweg die familierykdom van die vader erf, maar in elke geslag het God die jongste en nie die oudste seun gekies." [vry vertaal]
 
Pawson merk verder op dat God daarop wys dat daar steeds twee kante, in skrille kontras met mekaar, in die mensdom voorkom. Die verhale nooi ons uit om te besluit met watter kant ons onsself vereenselwig.
 
God gebruik diegene wat Hy kies. Vergelyk die lewe van 'n jong Dawid met die van sy oudste broer, Eliab wat oorgesien is. Of vergelyk die lewe van Josef, wat bestem was om in Egipte te heers en baie lewens te red, met die van sy oudste broer.
 
Daar is nog 'n tema wat vir ons duidelik word – die van die onvrugbare vrou. In bybelse tye is dit as 'n skande beskou as 'n vrou nie swanger kon raak nie. Tog, godvresende vroue soos Hanna en Elisabet, het gevind dat hulle nie swanger kon raak nie. Uiteindelik het God hulle geseën met kinders wat vir sy eie doel afgesonder is.
 
Rebekka het ook gesukkel om swanger te raak, en toe is daar vir haar gesê dat haar jongste uiteindelik oor sy oudste broer sou heers. Begunstiging – nog 'n tema wat in die lewens van die stamvaders voorkom – het klaarblyklik daartoe gelei dat Isak aan God ongehoorsaam was toe hy gedink het dat hy sy gunsteling seun geseën het in stede van die een wat God gekies het.
 
Die mamma se seuntjie, Jakob, was nie heeltemal die geharde man wat Isak wou hê nie. En so het die gestoei wat reeds in die baarmoeder begin het, 'n familiedrama geword wat daartoe gelei het dat die een broer gedreig het om die ander een dood te maak. Jakob het geseëvier.
 
Die belofte, die lensiesop en die verkoop van die eersgeboortereg het klaarblyklik nie veel saak gemaak nie. Esau het bewys dat hy 'n man van die wêreld was, terwyl Jakob 'n kind van die belofte was. Voorheen was ek geneig om Isak se aksies oor te sien en Rebekka te veroordeel. Tog, Jakob was 'n volwassene, heeltemal in staat om sy eie besluite te neem.
 
Deur bedrog het hy gekry wat eintlik altyd beloof is. Ek wonder soms wat sou gebeur het as hulle net God vertrou het. Sou God sonder hulle inmenging toegelaat het dat Esau geseën word? Is dit nie beter om God eenvoudig net te vertrou nie?
 
Gebed: Vader, help my om U te vertrou al wil dit lyk asof wat U beloof het nooit gaan gebeur nie. Help my om altyd te vertrou dat U sal ingryp, eerder as om op my eie pogings staat te maak. Amen