Imogen Campbell 

“My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Hebreërs 12:5b-6, 1983-vertaling
 
"O, what a tangled web we weave when first we practise to deceive!" Anders as wat ek altyd geglo het, is hierdie 'n aanhaling van Walter Scott en nie Shakespeare nie. Die meeste mense skryf dit egter toe aan Shakespeare. Miskien is daar nie 'n meer gepaste illustrasie om die punt wat dié aanhaling maak, te beklemtoon nie.
 
Iemand wat goed bekend was met misleiding was Isak se tweede seun. Hy is Jakob genoem wat bedrieër beteken. Hy het sonder twyfel sy naam gestand gedoen toe hy sy ouer broer heeltemal uit sy geboortereg bedrieg het. Hy het definitief 'n paar dinge van skelmstreke en bedrog geweet. In die komende dae gaan ons meer hieroor uitvind.
 
Ek dink Jakob kan ons 'n ding of twee leer oor die web waarin ons verstrengel raak wanneer ons begin om ander te mislei. Soos ek al genoem het, die Bybel is 'n skatkis van verhale wat geskryf is sodat ons lesse daaruit kan leer wat ons op ons eie lewens kan toepas.
 
Een hiervan is dat dade gevolge het. Soms lyk dit asof mense sondig – teen ons en teen ander – en tog is daar geen gevolge nie en hulle kom skotvry daarmee weg. Psalm 73 is 'n klaaglied wat presies met hierdie saak deel. Die digter spreek sy frustrasie uit in verse 2-3: "Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien." En in vers 12 sê hy: "Dit is hoe die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voort om rykdom op te hoop!" Dit klink baie soos ons vandag.
 
God dissiplineer egter diegene wat Hy liefhet. Daar is geen ouer wat nie sy kind in liefde sal tug nie. En God is die Vader van alle vaders. In Hebreërs 12:5-6 lees ons: "Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”
 
Op die ou end is daar 'n God wat nooit slaap nie, wat alles weet en elkeen van ons se harte ken en wat 'n regverdige God is. Elkeen van ons sal eendag rekenskap aan Hom moet gee. Geen uitsonderings of verskonings nie. (Romeine 14:12) Miskien, as ons dit in hierdie lig beskou sal ons baie meer simpatie hê met diegene wat nie ons Here ken of sy almag verstaan nie.
 
Gebed: Vader, dankie dat U na elke aspek van ons lewens omsien en dat selfs nie eers bedrog en misleiding in U pad kan staan nie. U almag oorheers enigiets wat die duiwel oor ons weg bring. Amen