Imogen Campbell 

Ek sal jou grens vasstel van die Rietsee af tot by die Filistynse See en van die woestyn af tot by die Eufraatrivier. Ek sal die inwoners van hierdie land in jou mag gee, en jy moet hulle uitdryf. Eksodus 23:31, 1983-vertaling
 
So teen die middel van verlede jaar het ek en 'n vriendin mekaar vir 'n langverwagte koffie ontmoet want ons het mekaar lanklaas gesien. Terwyl ons aan 'n hemelse sjokolade koek smul, het die gesprek onverwags baie warm geword.
 
Die gesprek het gefokus op vergoeding, die saak van bevoorregting en alles wat daarmee saamgaan. Bose regeerstelsels is bespreek. En, natuurlik, is Apartheid weer ingesleep. My standpunt was – sonder om die groot bewyse van ongelykheid te ontken – dat dit werklik moeilik is om te probeer om die verlede te herstel.
 
Daardie dag het my vriendin haar ware kleure as 'n stryder vir geregtigheid gewys en haar heftige teenstand vir sistemiese ongelykheid was baie duidelik. Die vertrekpunt vir haar redenasie was dat sy met kinders uit benadeelde agtergronde werk en daagliks sien hoe ongelykheid hulle lewens steeds beïnvloed.
 
Vir 'n hele rukkie kon ons nie saamstem oor die pad vorentoe nie. Uiteindelik het ons saamgestem dat mensgemaakte oplossings nie die antwoord is nie. Ons moet die situasie deur God se oë bekyk, want sonder Hom kan daar geen blywende verandering wees nie, en definitief nie vrede nie.
 
Op 'n soortgelyke manier kan die mensdom situasies deur die lens van bose stelsels bekyk, maar slegs God kan uiteindelik genesing bring. Ek onthou dat ek daardie dag die opmerking gemaak het: "Wat as diegene wat teen Israel is in opstand kom?" Min het ek geweet.
 
Na my mening was die onsekere vrede in die Midde-Ooste 'n kruitvat wat gewag het om te ontplof. Dit het dan op 7 Oktober 2023 gebeur, en miskien is dit nie verbasend dat ons tydens optogte van teenkanting voortdurend die refrein hoor: "van die rivier tot die see ..."
 
Dit is baie duidelik dat sonder God se ingryping daar nooit blywende vrede in die Midde-Ooste sal wees nie. Vele brose ooreenkomste is reeds onbevoeg bewys. God se wil vir die land is reeds in Genesis as 'n blywende belofte uitgelê en op ander plekke in die Ou Testament bevestig.
 
Jesus was 'n afstammeling van die stam van Juda, en deur die Israeliete van ouds het ons die Wet van God ontvang wat ons vandag steeds as die woord van God lees en aanvaar. Hulle is die oorspronklike olyfbome waaruit ons as gelowiges voortgespruit het. Ons is mede-erfgename saam met hulle.
 
Gebed: Hemelse Vader, soms loop ons ons vas in u Almag. As blote sterflinge kan ons nie blywende vrede bewerkstellig nie. Skenk asseblief aan ons u wysheid. Amen