Imogen Campbell 

Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon.  Psalm 122:6, 1983-vertaling
 
 יִשְׂרָאֵל – "Jy spreek dit uit Iss-rah-el", sê die pastoor. In teenstelling met hoe ek dit al die jare as Iz-ray-uhl uitgespreek het.
 
Ek het 'n kerkkonferensie bygewoon net na die gebeure van 7 Oktober 2023 toe die meeste Jode sedert die holocaust op een dag doodgemaak is. Dié aanval, byna presies 50 jaar sedert die begin van die Jom Kippoer-oorlog van 1973, het Israel onverwags gevang, wat dit natuurlik nog erger gemaak het.
 
Die stemming onder die konferensiegangers was somber, maar daar was tog 'n gees van afwagting want almal was gretig om hierdie gebeure in 'n geestelike perspektief te plaas. Daar is gesing, vir Jerusalem gebid en baie gepas is Psalm 122:6-9 voorgelees: "Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon. Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings. Ter wille van my broers en my vriende wens ek jou vrede toe. Ter wille van die huis van die Here ons God bid ek dat dit met jou goed sal gaan."
 
Terwyl Israel se reaksie op die aanval voortgaan om nuusberigte te oorheers, glo ek dat dit uiters belangrik is dat ons aanhou bid dat die Here se wil in die Midde-Ooste sal geskied. Oorlog is verskriklik; daar is so baie lyding en dit breek ons harte. Op ons knieë, deur gebed, kan ons die Here se raad vra. Hy is in beheer en vir Hom is dit moontlik om dinge te verander.
 
Hierdie maand gaan ons die lewe van die man wat uiteindelik Israel genoem is, en die van sy stam, oordink. Miskien sal hierdie onvolmaakte mense wat deur God gekies is om sy boodskap na die wêreld uit te dra ons help om die God van Israel beter te leer ken, veral met Paasfees om die draai.
 
En dan gaan ons op Jesus fokus, die mees gevierde Jood en die belangrikste mens wat nog ooit hierdie planeet betree het. Ek glo dit is nodig om sy herkoms en die land wat die God-mens gekies het om sy aardse tuiste te noem, in ag te neem.
 
Daarom vra ek dat elkeen van ons, en alle gelowiges om ons, vir die situasie in Israel, Gasa en die hele streek sal bid. Kom ons vra God om in te tree en vrede in daardie pragtige, maar omstrede deel van die wêreld, te bring en dat sy Naam daardeur verheerlik sal word. Die Bybel spoor ons immers aan om te bid en Jesus sê, volgens Matteus 18:20 dat waar twee of meer in sy Naam vergader, Hy ook daar is.
 
Gebed: Hemelse Vader, dit is 'n voorreg om 'n verhouding met U te hê. Help ons om te glo dat U ten volle in beheer is, al verstaan ons nie hoe dinge in die Midde-Ooste verloop nie. Amen