Benescke Janse van Rensburg

Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. Josua 10:13, 1983-vertaling
 
29 Februarie. Skrikkeldag. ’n Dag waarop gemiddeld 4 miljoen babas gebore word (wat beteken dat hulle net elke vier jaar eintlik hulle verjaarsdae kan vier). Juis hierom het sommige kulture besluit om in stede van 29 Februarie te vier, eerder in ’n Skrikeljaar 24 Februarie twee keer te vier!
 
’n Ekstra dag is redelik voordelig – veral as jy sit met ’n naderende sperdatum en jy nie weet hoe jy alles gedoen kan kry nie. Josua het eens so gevoel. In Josua 10 lees ons dat vyf konings teen die Israeliete en Gibeon opgetrek het. ’n Groot veldslag het gevolg, maar Josua het geweet dat die dag te kort is om die oorwinning in die aanval te bewerkstellig. In ’n stap van geloof gaan staan hy voor God en vra dat die God die son en maan laat stilstaan.
 
Wat gebeur? In Josua 10:13a lees ons: “Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het.” 
 
Wat benodig jy vandag wat amper so “onmoontlik” voel as dat die son en maan kan gaan stilstaan? ’n Huweliksmaat? Swangerskap? ’n Nuwe werk? Genesing? In Matteus 17:20 sê Jesus vir sy dissipels: “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
 
Mag 2024 die jaar wees waar ons opnuut besef wie God is. Hy kan ons help om ons vyande te verslaan. Hy het immers die son en maan laat stilstaan, het Hy nie? Sterkte.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U almagtig is en in beheer van my lewe bly. Help my asseblief om nie in vrees te leef nie, maar om myself te herinner aan wie U is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewer of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.