Benescke Janse van Rensburg 

U is vir my 'n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing. Sela. Psalm 32:7, 1983-vertaling
 
Sedert 7 Oktober 2023 het ’n groot hoeveelheid mense hulle lewens in Israel en Gasa verloor. Te midde van hierdie verwoesting, is daar wonderwerkstories wat ons herinner dat God oor sy volk waak. Hier is twee daarvan:
 
Storie 1: Een van die Israeli-soldate vertel hoe hulle van diens af in ’n tentekamp gerus het, toe hulle die eerste oproep kry dat van die Hamas-vegters se kommunikasie onderskep is. Die Hamas-vegters was besig was om in die tonnels onder die grond nie te ver van hulle af nie, te beweeg.
 
’n Paar minute later, is nog ’n kort stukkie kommunikasie onderskep. Dié keer was dit duidelik dat die vegters nóg nader aan die soldate was. As voorsorgmaatreël is die soldate uit die tentekamp ontruim waar hulle gewapen reg rondom die kamp gaan staan en waak het vir wat ook al mag volg.
 
Meteens het ’n Hamas-vegter met plofstof reg rondom sy liggaam uit een van die tonnels in die middel van een van die tente in die kamp regop gestaan. Die Israeli’s het hom gesien en ’n skoot afgevuur. Die man het in die tonnel teruggeval waarna ’n reeks ontploffings in die tonnel geaktiveer is. Die selfmoordbomaanvaller was gestuur om soveel moontlik Israeli soldate se dood te veroorsaak. Die kommunikasie is op net die regte oomblik onderskep om die soldate betyds te waarsku. Die Hamas-vegter se plofstof het die tonnel vol plofstof vernietig wat gebou was met die doel om te vernietig.
 
Storie 2: Vier Israeli-soldate vertel hoe hulle in Gasa in ’n verlate gebou ingestap het toe ’n Hamas-vegter meteens reg voor hulle uit ’n tonnel verskyn en met ’n outomatiese geweer op hulle begin vuur. Hulle is almal raak geskiet voordat die vegter weer verdwyn het.
 
Tog, een van die soldate is teen sy bril getref, nog een teen sy geweer, die derde teen die koeëlvaste baadjie en die vierde teen sy kopskerm. Alhoewel almal raak geskiet is, is al vier gemis.
 
Met die soldate se terugkeer in Israel was hulle oorbluf en dankbaar. Een van hulle het gesê: “Daar is geen ander verduideliking as dat God by ons was nie. Hy het ons beskerm – en ons weet dat Hy sal aanhou om dit te doen.”
 
Wanneer ’n mens só naby aan die afgrond tussen lewe en dood beweeg, is dit nodig om te weet wie jy vir jou beskerming vertrou. Tog beweeg ons elke dag daar. Ons het ’n vyand wat soos ’n brullende leeu rondloop en soek na maniere om ons aan te val (1 Petrus 5:8).
 
In Psalm 32:7 lees ons: “U is vir my 'n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing.”
 
Ons is nie gevrywaar van slegte dinge wat ons lewens mag tref nie. Wat ons wel weet, is dat God vir ons ’n skuilplek is. Hy beskerm ons teen aanvalle. En Hy laat ons oorwinningsliedere sing. Sterkte.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U my beskerm. Vandag vra ek dat U u engele opdrag sal gee om rondom my geliefdes te waak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewer of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur die gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.