Benescke Janse van Rensburg 

In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in 'n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien ... Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet. 1 Korintiërs 13:12, Bybel vir almal
 
Ek loop vanoggend ’n vrou raak wie se seun ’n maand gelede getrou het. Sy het iemand gehad wat spesiaal vir haar ’n persblou rok vir die troue gemaak het. Toe ek haar vra hoe die troue was, vertel sy hoe teleurgestel sy aanvanklik was toe die rok ’n week voor die troue glad nie reg gesit het nie. Sy was genoodsaak om inderhaas ’n rok by ’n vriendin te leen.
 
“Maar dit was eintlik ’n seëning,” vertel sy. “Toe die bruid se ma aangestap kom, het ek amper gestik. Sy het nie net presies dieselfde persblou kleur rok gedra nie. Die patroon van haar rok was presies dieselfde as wat myne sou wees. God het my beskerm dat ons nie soos ’n tweeling op die funksie sou lyk nie!”
 
Wanneer iets nie uitwerk soos waarop ons gehoop het nie, is dit maklik om kwaad te word en selfs vir God te blameer. Dít terwyl Hy dalk besig is om ons te help. In 1 Korintiërs 13:12 lees ons: “In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in 'n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien ... Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet.”
 
God het vir ons planne vir voorspoed. Hy is ’n goeie God. Wanneer dinge dof voel en ons nie verstaan hoekom een deur toeslaan nie kan ons met ’n geruste hart ons geloof en vertroue in Hom plaas. Hy ken die toekoms. Sterkte.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U nooit verander nie. Help my om in “dowwe” tye my geloof en vertroue op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewe of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.