Benescke Janse van Rensburg

Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. Hebreërs 12:11, 1983-vertaling
 
Vanoggend stop ’n hawelose man my in die parkeerarea. Hy soek geld om toiletware te koop, want hy is op pad hospitaal toe vir ’n operasie. Sy blou oë is gevul met hartseer en sy storie deurspek met trauma op trauma.
 
Met my telefoon gereed in my hand om iemand te bel om hom te help, vra ek: “Devon, is jy seker jy wil regtig gehelp word?” By die radiostasie waar ek werk het ons ’n uitgebreide netwerk van mense wat hom kan help om van die straat af te kom. “Ek wil, maar ek gaan net eers gaan vir my operasie,” antwoord hy. Hy lig sy hemp op en wys na die sakkie op sy buik. Hy is geskiet en omdat sy ingewande beskadig is, moes hy ’n kolostomiesakkie kry.
 
Na ons gesprek, het ek gewonder: Is Devon se storie eg? Of is hy net nie bereid om verantwoordelikheid te neem om sy huidige situasie te verbeter nie? Net tyd sal leer, want hy het belowe om na die operasie terug te kom vir hulp.
 
Tog, hoeveel keer gebruik ons ook verskonings om nie te werk aan areas in ons lewens wat aandag kort nie – die 10 kg ekstra om ons middel, die middelmatige huwelik, die “ekstra” glas wyn in die aand, die rebelse tiener wat heeltyd sy of haar sin kry. Omdat ons weet dat verandering tyd, moeite en opoffering gaan verg of omdat ons die vrede in die huis wil bewaar, stel ons dit uit of gee ons ons geliefdes bloot hulle sin (al is dit sleg vir hulle).
 
In Hebreërs 12:11 lees ons: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.”
 
Niemand hou daarvan om getug te word of om iemand te tug nie. Tog, die vrug daarvan is altyd die moeite werd.
 
Gebed: Vader God, baie dankie vir u genade met my. Wys my die areas in my lewe wat nie in lyn is met u perfekte wil vir my lewe nie. Maak my sterk om dit te verander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewe of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.