Benescke Janse van Rensburg 

Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Johannes 7:38, 1983-vertaling
 
’n 23-jarige Amerikaanse vrou se dors vir die gewilde Stanley Cups Quencher-flesbekers het haar daartoe gedryf om die wet te oortree. By ’n sportwinkel in Kalifornië het die vrou ’n trollie vol flesbekers in haar motor se kattebak gelaai sonder om daarvoor te betaal. Die verkeerspolisie is ontbied en die vrou is van die pad afgetrek waar flesbekers ter waarde van $2 500 (oftewel R47 071) in haar voertuig gevind is.
 
Hierdie vrou se “dors” na die gewilde peperduur flesbekers, het my laat dink aan hoe ons ook soms ’n “dors” vir verkeerde dinge in ons lewens kan ontwikkel – ’n groter huis, ’n beter huwelik, meer geld in die bank, kinders wat meer presteer. Daar is niks verkeerd om goeie aspirasies te hê om ’n huidige situasie te wil verbeter nie. Tog, as hierdie “aspirasies” nie bestuur word nie, kan dit maklik in ’n gevoel van onvergenoegdheid of gierigheid omskakel. Ons sien dan nie meer wat ons het en waarvoor ons dankbaar behoort te wees nie, maar net dit wat ons nie het nie.
 
In Lukas 12:15 sê Jesus: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Ook in Johannes 7:38 herinner Jesus ons: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”
 
Leef jy nog dankbaar of dryf ’n “dors” na iets wat jy nie het nie jou om iets onverantwoordelik te doen? Sterkte.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U my dors kom les. Lei my asseblief weg van dinge wat ’n versoeking in my lewe raak en help my om my water by U te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewe of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.