Benescke Janse van Rensburg 

Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Lukas 12:15, 1983-vertaling
 
Met die dood van die miljoenêr John D Rockefeller, wou ’n joernalis uitvind hoeveel sy fortuin beslaan het. Vasbeslote om die antwoord te vind, het die joernalis ’n afspraak met een van Rockefeller se mees prominente werknemers gemaak en hom gevra hoeveel Rockefeller nou eintlik nagelaat het. Die werknemer se antwoord was eenvoudig: “Hy het alles nagelaat.”
 
Ek hou van die uitdrukking: ’n Doodskleed het nie sakke nie. Wanneer ons sterf, kan ons niks saamneem nie.
 
In Lukas 12:15 waarsku Jesus: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” En dan in Matteus 6:19-21 lees ons: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar ... Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
 
’n Doodskleed het nie sakke nie. Waar vergader jy meeste van jou skatte?
 
Gebed: Vader God, baie dankie vir elke besitting. Help my asseblief om nie so weggevoer te raak om nog meer te besit dat dit belangriker as U raak nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewe of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.