Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 23 Februarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 34: VERTROU GOD OM JOU ORE OOP TE MAAK

Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Tydjie gelede het iemand hierdie videogreep aan my gestuur:  http://www.youtube.com/watch?v=LsOo3jzkhYA. In die video ontmoet ons die 29-jarige Sarah Churman van Texas wat weens ’n genetiese defek doof gebore is. Ná ’n operasie waarin ’n klankapparaat in haar oorkanaal ingeplant is, word die apparaat aangeskakel sodat sy klank vir die eerste keer in haar lewe duidelik kan hoor. Nodeloos om te sê is dit behoorlik ’n tranetrekker oomblik.

Tog, besef jy dat ons ook soms, net soos Sarah, doof deur die lewe gaan? Nie doof in die sin dat ons nie klanke kan hoor nie, maar doof vir die stem van die Heilige Gees. Hy wil met ons praat en ons daagliks lei, maar as ons Hom nie in ons lewens innooi nie, bly ons doof vir sy stem.

Net so, kan ons blind deur die lewe gaan. Nie blind in die sin dat ons nie kan sien nie, maar blind vir God se wonderwerkende hand in ons lewens. In 2 Korintiërs 4:3-4 skryf Paulus dat die vyand ’n sluier oor mense se oë wil trek sodat ons nie God se goedheid en die lig van die evangelie kan beleef nie.

Sukkel jy om God se stem te hoor of om sy goedheid rondom jou raak te sien? Luister dan na Jesus se woorde in Lukas 4:18 waar Hy bevestig waarom hy aarde toe gestuur is: “Die Gees van die Here lei my. Die Here het my gesalf en gesê ek moet die goeie boodskap vir die arm mense bring. Hy het my gestuur om vir die gevangenes te sê hulle is vry, hulle kan uitgaan. Hy het my gestuur om vir die blinde mense te sê hulle sal weer kan sien. Ek moet almal vrymaak wat swaarkry.” (Die Bybel vir almal-vertaling)

Jesus het ons sondes aan die kruis weggeneem. Meer nog, ná sy hemelvaart het Hy die Heilige Gees as geskenk aan ons gegee om ons te vertroos en met wysheid te lei in elke situasie. Wanneer ons dus die Heilige Gees in ons lewens innooi en Hom vra om ons oë en ore oop te maak, mag ons dalk net soos Sarah in totale verwondering staan wanneer ons skielik sy stem hoor of sien waar God besig is om te werk.

Moenie langer uitstel nie, nooi die Heilige Gees sommer vandag in jou lewe in:

Vader God, baie dankie dat U, u Heilige Gees as ’n geskenk aan ons gegee het. Vandag wil ek U vra om my nuut vol te maak met u Gees. Heilige Gees, help my om U stem te leer ken en verwyder enige sluier oor my oë wat verhoed dat ek U goedheid kan raaksien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 24 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 22 Februarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.