Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 24 Februarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 35: BEGIN OM JOU GELOOF NUUT OP GOD TE PLAAS

Deur Benescke Janse van Rensburg

[AGTERGROND: Dankie aan almal wat hulle getuienisse met my gedeel het. Jy kan dit steeds doen deur ’n e-pos aan my te stuur by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek deel graag twee getuienisse van lesers wat getuig van God se wonderwerkende krag.]

Leser 1, Sandra Faber: “Ek was vir jare ’n strawwe roker. In ’n stadium het ek tot sestig sigarette per dag gerook. Geen pil, raad of plakker wat ek gevolg het om op te hou rook, het gehelp nie.

In 2005 het ek ’n dieper pad saam met God begin stap, maar steeds gesukkel om op te hou rook. Een oggend het ek ’n tydskrifartikel gelees van ’n vrou wat vertel het hoe die Heilige Gees haar bonatuurlik gelei en bevry het uit ’n saak wat vir haar onmoontlik gelyk het. Die artikel het my diep geraak en ek het net daar besluit op my knieë te gaan en vir God te vra om my deur sy Heilige Gees van my rookverslawing te bevry.

God het my gebed verhoor en my in ’n oogwink bevry. Dit is vandag sewe jaar later en vandat ek daardie dag van my knieë af opgestaan het, het ek nog nooit weer aan ’n sigaret gevat nie – en ook geen onttrekkingsimptome gehad nie! God is almagtig en wanneer Hy ons vrymaak is ons waarlik vry!”

Leser 2, Mabel Swart: “’n Paar jaar gelede het rowers my op ’n dag in die winkel waar ek gewerk het oorval en geld uit my kasregister geroof. In skok het ek agter hulle aangehardloop. Meteens was daar ’n geweldige steekpyn in my onderlyf. Soveel so dat ek nie verder kon hardloop nie en die sekuriteitswag hulle moes agterna sit.

By die huis daardie aand die pyn vererger en my man het my dadelik hospitaal toe geneem. Ná ’n paar toetse het die dokter ons meegedeel dat ek 17 weke swanger is, maar dat my liggaam, weens die skok, besig was om die baba te verwerp. Daar was reeds bloed in my uriene en die dokter het verduidelik dat daar niks is wat hulle kon doen om die proses te stop nie. 

Ons het huis toe gegaan en onmiddellik begin bid. Terwyl ons op God se woord en beloftes gestaan het, het ons Hom gevra om ’n wonderwerk te verrig. Hy het ingegryp en my genees. Op 21 September 1994 is ons pragtige, gesonde baba gebore. Ek prys die wonderlike naam van Jesus Christus!

Sandra en Mabel bevestig net weereens dat niks vir God onmoontlik is wanneer ons ons geloof in Hom plaas nie. Luister weer na Jesus se woorde in Markus 11:24: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” Ook in Johannes 16:23: “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee.”

Daar is krag in die Naam van Jesus Christus. Kom ons begin bid – sonder twyfel in ons harte. En kom ons wag opgewonde oor die deurbraak wat Hy vir ons beplan. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my gebede hoor. Ek bring vandag (jou uitdaging) na U toe en ek vra dat U sal ingryp en aan my ’n deurbraak bewerkstellig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk gerus op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy na foto’s van bogenoemde lesers.

** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 27 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 23 Februarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.