Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 22 Februarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 33: BEGIN HOM DANK VIR DIE DORINGS

Deur Benescke Janse van Rensburg

Op die plaas in die Vrystaat waar ek grootgeword het, het ons as kinders gereeld in die somer kaalvoet buite baljaar. Wanneer ons egter in die veld wou instap en ’n klomp bossies dorings ons roete versper het, moes ons óf terughardloop huis toe om skoene aan te trek óf iemand met skoene moes ons optel en oor die dorings dra na waar ons weer gemaklik kon stap.

In ons lewens bevind ons, onsself ook van tyd tot tyd in situasies waar dit voel asof ’n klomp dorings ons pad versper – of erger, asof dorings in ons vlees vasgesteek het. Hierdie dorings kom in verskillende vorms, soos onder meer ’n moeilike huweliksmaat, ’n rebelse kind, ’n siekte wat jou kragte uit jou liggaam pers, ’n behoefte vir ’n baba van jou eie, skuld wat jou wil oorweldig of ’n uitdaging in die werkplek.

Het jy al opgelet wat meestal in hierdie tye gebeur? Ons hardloop terug na God. Ons bid meer desperaat terwyl ons besef dat net Hy aan ons ’n deurbraak kan gee. Wanneer ons dan die deurbraak beleef, getuig ons hoe Hy ons deurgedra het en ons gebede verhoor het. Die waarheid is dít: Dorings trek ons nader na God en help ons om sy liefde vir ons en sy vermoë om die onmoontlike moontlik te maak, nuut te ontdek.

Paulus het ook oor ’n doring in sy vlees geskryf. Luister weer na sy woorde in 2 Korintiërs 12:7-9: “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’”

Is daar dorings wat vandag voor jou in jou pad lê? Of voel dit asof ’n doring van vrees en bekommernis in jou hart kleef? Onthou, God kan jou optel en jou deur hierdie krisis dra. Hy wil vir jou skoene aan jou voete trek en die pyn wegneem.

Kom ons dank Hom vir die dorings – eerder as om heeltyd te kla. Jy mag dalk oor ’n tyd terugkyk na hierdie oomblik en besef dat jy iets nuut van sy liefde vir jou ontdek het. Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat geen uitdaging in my lewe ooit vir U te groot is om uit te sorteer nie. Help my om volkome op U te vertrou in hierdie seisoen van my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 23 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 21 Februarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.