Ben Fourie 

Toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes daarheen gestuur.” Handelinge 8:14, 2020-vertaling
 
Om werklik te begryp wat hier gebeur het, moet 'n mens iets weet van die verhouding tussen die Jode en die Samaritane. Na die dood van koning Salomo in 930 v.C. het die koninkryk in twee geskeur met die noordelike koninkryk wat die naam Israel behou het en die suidelike koninkryk wat die naam Juda gekry het, vanwaar die naam Jood ook sy oorsprong het.
 
Koning Omri van Israel bou 'n nuwe hoofstad met die naam Samaria vir die noordelike koninkryk. Samaria word in 722 v.C. deur koning Sargon van Assirië ingeneem, wat groot getalle van die inwoners in ballingskap wegstuur. Daar het wel 'n aantal mense in die land oorgebly wat selfs nog by die tempel in Jerusalem gaan aanbid het. Juda is egter ook in 587 v.C. ingeneem en die inwoners van Jerusalem is in ballingskap weggestuur. Nadat Kores vir Esra en Nehemia toegelaat het om na Jerusalem terug te keer het daar wrywing, meesal polities van aard, tussen hulle en die owerstes in Samaria oor die herbou van die tempel ontstaan. Die mense van Samaria het mettertyd ook vermeng geraak met ander volke en het selfs hulle eie tempel wat op berg Gerisim gebou is, aan Zeus gewy. Dit kon die Jode nie verdra nie.
 
In die tyd van Jesus het die Jode dus die Samaritane absoluut geminag. Ons sien byvoorbeeld die dissipels se verbasing dat Jesus met 'n Samaritaanse vrou by die put praat. Wanneer Jesus in Handelinge 1:8 sê dat die dissipels sy getuies in Jerusalem, die hele Judea, Samaria en dan in die hele wêreld sal wees, was dit waarskynlik vir die dissipels 'n vreemde begrip. Maar hulle gehoorsaam die opdrag. Volgens Handelinge 8 was dit veral Filippus wat daar gewerk het en op 'n dag vir die apostels in Jerusalem kon laat weet dat die Samaritane die woord van God aanvaar het. So groot was die nuus dat hulle dadelik vir Petrus en Johannes daarheen stuur.
 
Die woord van God word nie gekeer deur politieke of godsdienstige verskille en veral nie deur menslike voor- of afkeure nie. God se Gees is soos die wind wat waai waar hy wil en niks of niemand kan Hom keer nie en Hy dra die woord oor oseane en landsgrense so ver soos wat Hy wil.
 
Gebed: Ons dank U Here dat daar geen grense in die hele wêreld is wat kan verhinder dat mense u woord hoor nie. Amen