Ben Fourie 

“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon.” Johannes 1:14a
 
Daar is so ongeveer 800 000 woorde in die Bybel. Omdat tale so baie van mekaar verskil, is daar geen algemene getal wat vir almal geld nie, maar dit maak nie regtig saak nie. As 'n mens al hierdie duisende woorde uit die Bybel neem en jy sou hulle in ander verband gebruik, is dit niks meer as net 'n klomp alledaagse woorde nie. Die verhaal van die Bybel, soos weliswaar die inhoud van enige ander boek, is nie 'n somtotaal van woorde nie, maar 'n somtotaal van mense, handelinge en gebeurtenisse.
 
Selfs hierdie definisie is nog nie bevredigend nie, want in die Bybel gaan dit nie net oor handelinge en gebeurtenisse nie, maar oor 'n Persoon, dit is die Drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees. Waar ons hierdie maand oor die woord of Woord nadink, is dit dan veral die persoon van Jesus Christus as die Woord van God wat hier ter sprake is. Oor die betekenis van Jesus as die Woord van God, het ek reeds met 'n vorige Vers-'n-dag reeks geskryf, so ek gaan dit nie herhaal nie.
 
Vandag gee ons aandag aan die Woord wat waarlik vlees of mens geword het. Hy het soos ons gelyk, arms, hande, bene, oë en gesig. Mense kon aan hom vat, hy was soms honger en dors, soms moeg, soms hartseer net soos ons. As Hy nie al hierdie dinge was nie kon Hy nie namens ons die sonde gedra het nie.
 
Sou 'n mens Jesus as Woord van God uit die 800 000 woorde van die Bybel verwyder, word die Bybel werklik net 'n versameling woorde, mooi om te lees, maar sonder ewigheidswaarde. Dan is ons terug by die wet waarvan Paulus skryf dat dit nie by magte was om ons te red nie (Romeine 8:3). Sonder die vleesgeworde Woord van God verval alles, word alles sinloos, is daar geen oorwinning nie. In Openbaring 19:13 lees ons van die ruiter op die wit perd: “Hy het klere aan wat met bloed deurweek is, en sy Naam is Die Woord van God”. Alleen deur die Woord van God is oorwinning moontlik tot in ewigheid. 

Gebed: Here, saam met alle gelowiges deur die eeue dank ons U dat die Woord wat eens op 'n tyd vlees geword het nou oorwinnaar is. Amen