Ben Fourie 

“Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, waarvoor ek verdrukking ly – selfs in boeie, soos ’n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie.” 2 Timoteus 2:8-9, 2020-vertaling
 
Dit het nie altyd goed gegaan met Paulus nie. In sy tweede brief aan die Korinthiërs vertel hy van sy talle ontberinge (2 Korinthiërs 11:23 ev). Hy kry vyf keer die voorgeskrewe 39 houe van die Jode, word drie maal met stokke geslaan, een keer is hy met klippe gegooi, hy het drie keer skipbreuk gely en was dikwels in doodsgevaar. Verder is hy verskeie kere geboei en het in die tronk beland. Hierdie tweede brief aan Timoteus skryf hy in 64 n.C. Dit is kort voor sy dood en hy skryf vanuit die tronk in Rome waar hy vir die tweede keer gevange gehou word.
 
Hier vanuit die tronk skryf hy oor alles wat vir hom en ’n evangeliedienaar belangrik is. In ons teksvers skryf hy oor Christus se opstanding uit die dood, vir Paulus die een saak waaroor daar geen twyfel moet wees nie. Hy noem dit selfs “my evangelie”, met ander woorde die evangelie wat hy verkondig. Evangelie beteken natuurlik blye boodskap. Selfs uit die tronk kom die blye boodskap van Jesus se opstanding, want sê Paulus: “die Woord van God is nie geboei nie.” Geen boeie of tronkmure kon Paulus verhoed om die boodskap van Jesus se lewe en kruisdood en opstanding te verkondig nie.
 
Hoe waar hierdie woorde van Paulus was, sien ons vandag in die feit dat die Christelike geloof die grootste godsdiens ter wêreld is. Volgens internetstatistieke is dit tans 2,38 miljard of te wel 31% van die wêreldbevolking. Vooruitskattings wys dat dit in 2050 nog steeds die grootste groepering sal wees. In die verlede, en toenemend ook weer in ons eeu, was daar lande, regerings en ander gelowe wat die Woord van God in boeie wou slaan en hulle probeer nog steeds. Maar God laat nie sy Woord in boeie slaan nie. Selfs in lande en plekke waar die Bybel ’n verbode boek is, word die Blye Boodskap daagliks deur verskeie radiostasies uitgesaai. Ook toe kerke in die ergste Covid-19 inperking nie fisies eredienste kon aanbied nie, het die Woord elke Sondag oor die radio en deur die tegnologie op ander platforms uitgegaan. Mense kan geboei word, maar sy Woord nooit.
 
Gebed: Ons dank U dat u woord nooit en deur niks gebind kan word nie. Mag u woord selfs mense in die mees geslote lande bereik. Ons wil Halleluja! roep omdat u woord nie gebonde is aan tyd of plek nie. Amen