Carina Francke  

“Dit verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ookal doen, doen die Seun ook net so. Johannes 5:19, 1983-vertaling
 
“Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” Johannes 5:30, 1983-vertaling
 
Vir die soveelste keer moes ek onlangs weer 'n paar treë retireer en ons hemelse Vader om vergifnis vra vir my voortvarende weet-alles gesindheid in die aanpak van 'n projek. Nodeloos om te sê, ek moes die opdrag van voor af by die horings pak. Kon ek nie maar net van meet af aan, soos Jesus, erken dat “ek niks uit my eie kan doen nie?” (Johannes 5:19)
 
Jesus se erkenning dat Hy, die Seun,niks uit sy eie kan doen nie, bevestig dat Hy “in alles, na die wil van sy Vader streef en dit doen.” (Johannes 5:30) Ook toe sy Vader Hom gestuur het om by mense te kom leef en inwoon. Nie net by mense wat Hom volg, erken en vereer nie, maar ook by diegene wat Hom minag, spot, verneder en uiteindelik onskuldig aan 'n kruis laat vasnael het.
 
In hierdie skemer fase van sy lewe op aarde, stort sy Goddelike gehoorsaamheid en afhanklikheid van sy Vader, egter nie in duie nie. Nee, Hy het geweet dat sy lyding tot by sy laaste asemteug, die weg gaan oopbreek sodat jy, ek en elke ander gelowige, oorwinnend sy plan vir ons eie lewens kan ontdek en dit vervul tot aan die einde van ons lewensdae.
 
Soos baie mense is jy dalk ook skepties oor die betroubaarheid van hierdie Jesus in wie mense (en jy) jou geloof plaas. Is daar iemand wat as getuie vir sy betroubaarheid kan praat? Maar natuurlik! Johannes 5 lig die gordyn op hierdie vrae.
·         Jesus getuig self: Hy erken dat Hy as die Seun van God niks uit sy eie kan doen nie, selfs nie om 'n oordeel uit te spreek nie. Sy oordeel is slegs regverdig as Hy dit van die Vader hoor. (v30-31)
·         Die werke wat sy Vader Hom gegee het om te doen, getuig dat Hy deur die Vader gestuur is. (v36)
·         God die Vader (“Iemand anders”) getuig in besonder oor Jesus – Hy het Hom dan gestuur! Die vraag liewe leser, bly egter: Hoor die mense? Sien die mense? Nee! want hulle het geword soos blindes en dowes. Sy boodskap leef nie in hulle harte nie. (v32)
·         Die Skrifte getuig van Jesus. Dit wys na Hom as die Een wat die Skrifte vervul. Hy is die Een wat die ewige lewe bring. (v39-40)
·         Die Heilige Gees of die Voorspraak, die Gees van waarheid, wat van die Vader uitgaan, getuig vandag steeds oor Jesus. (Johannes 15:26)
 
En ons as gelowiges? Jesus se opdrag aan sy dissipels is duidelik: “En julle moet getuig, want julle is van die begin af by my.”(Johannes 15:26b) 'n Opdrag wat in 2022 steeds vir elke Christus gelowige, van krag is! Jy kan Hom daarom onwrikbaar vasgryp en in Hom glo!
 
Gebed: Hemelse Vader, vergewe my vir die instorm in u teenwoordigheid omdat my “wag op U” aangejaag word deur tydskedules en oorhaastigheid om dinge gedoen te kry. Sonder u inspraak in wat ek doen en beplan, is elke poging net maar 'n mensgemaaktheid. Maak my oë en ore oop om u inset klokhelder te hoor. Amen