Carina Francke 

“Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus wat hulle lewe vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies. Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom.”  Romeine 16:3-4, 1983-vertaling
 
Sommige egpare het die vaardigheid aangeleer om die beste van hulle lewe saam te maak. Hulle vul mekaar aan, kapitaliseer op mekaar se sterk punte en vorm 'n gedugte span – in huwelik en bediening. Priscilla en Akwila is 'n voorbeeld van wat die Here deur 'n gewillige egpaar kan doen. Hierdie twee mense se gesamentlike werksywer en bedieningsetiek, openbaar hulle verhouding met mekaar en die Here, en fokus nie op wat gewoonlik tussen paartjies gebeur nie, maar wat deur hulle kan plaasvind.
 
Hulle gasvryheid het die deur na redding, asook om êrens te “behoort”, vir talle mense geopen. Hierdie sendingegpaar het volhard in hulle bediening vanuit hulle huis. Ongeag of dit in Korinte, Efese (Handelinge 18:18-28) of Rome was. In Rome was hulle die bedieningsegpaar van een van die die huiskerke wat ontstaan het. (Romeine 16:3-4) Dit is dus geen wonder nie, dat die Life Application Bible (p1999) die volgende kommentaar neerpen: “Die Christen-huis is steeds een van die beste gereedskapstukke om die evangelie te versprei.” Dit gesê, moet jy jouself afvra: “Vind of beleef mense Christus in my huis?”
 
Iemand wat Christen-huis gasvryheid en bediening eerstehands ervaar het, was Paulus. Hy soek Priscilla en Akwila in Korinte op nadat hulle, soos Paulus en alle Jode, verplig was om Rome te verlaat. Die drie van hulle se gemeenskaplike beroep as tentmakers, asook hulle liefde vir die evangelie, het tot gevolg dat hierdie paartjie hulle huisdeure vir hom oopgooi. Hy trek by hulle in en beoefen saam met hulle die tentmakersberoep. Op sy beurt deel hy sy geestelike rykdom van wysheid met hulle. Elke sabbatdag het hy in die sinagoge met mense gesprek gevoer en Jode en Grieke probeer oortuig.
 
Priscilla en Akwila bevind hulle later in Efése waar hulle die Jood Apollos ontmoet. Hy was 'n goeie, geesdriftige spreker met 'n deeglike kennis en lering oor Jesus en die Skrif. (Handelinge 18:24) Daar is egter een saak wat die egpaar raak hoor – Apollos weet net van die doop van Johannes. Getrou aan hulle gesamentlike roeping, het die egpaar “hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak.” (Handelinge 18:26) Hulle het hom met die volle waarheid toegerus en nie aan homself oorgelaat nie.
.
Hierdie gebeure het my laat dink: Wat doen ek en (jy), as gelowiges, wanneer 'n medegelo- wige die Woord nie reg interpreteer of korrek oordra nie? Laat ek hom voortploeter in sy onkunde, of gaan soek ek saam met hom na die waarheid? Op dié manier word beide partye immers wyser, maar ook versigtiger wanneer ons mense reghelp
 
Nou wonder ek maar net, is Priscila en Akwila se gasvryheid, nie die soort wat elke gelowige behoort te betoon aan mense wat jou deurdrumpel betree nie? Dink net: 'n oop deur, 'n huis van gesprek, van oordenking, kennis en antwoorde. 'n Spasie wat paartjies in staat stel om die evangelie volgens die volle waarheid aan ander te verkondig!
 
Gebed: Vader, dankie dat U kies om mense te gebruik om die wonder en krag van die evangelie met verdwaalde, maar ook soekende mense te deel. Dankie ook dat dit die Heilige Gees is wat mense van die waarheid oortuig – ons is maar net die bevoorregtes wat die waarheid van die evangelie kan verkondig. Ons loof U daarvoor! Amen