Carina Francke 

“En 'n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê:” Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is 'n eensame pad. Toe het hy opgestaan en gegaan.” Handelinge 8:26, 1983-vertaling
 
'n Engel van die Here reël dat Filippus, 'n prekende evangelis in Samaria, op 'n plek kan wees waar hy met 'n belangrike Etiopiese man 'n gesprek sal voer. Hierdie man sal luister, glo en uiteindelik self die evangelie in sy eie land gaan verkondig. Filippus wonder nie wat van sy bediening gaan word nie. Nee, wat hy wel weet, is dat hierdie nuwe sendingveld wat ontgin gaan word, lewensreddend belangrik is vir diegene wat daaraan blootgestel gaan word. Hy vertrek daarom onmiddellik. Ja, ek is bewus daarvan dat die meeste moderne bedienaars wal sal gooi teen so 'n opdrag – 'n mens tree mos nie so impulsief op nie! Maar as die Here praat … luister en doen jy!
 
Hoe dit ookal sy, daar aangekom, sê die Gees vir Filippus om saam met die wa te loop. (Handelinge 8:29) Die reisiger, 'n ontmande, Etiopiese hofamptenaar, het na Jerusalem gekom om te aanbid. Hy was besig om te lees uit Jesaja 53:7-8, maar het nie alles verstaan wat hy lees nie. Dit word die aanknopingspunt vir Filippus om hierdie Skrifgedeelte in die Ou Testament te gebruik om die metafoor van die “stom” skaap en “stom” lam deur te trek na die Evangelie van Jesus Christus. Hy maak seker dat die Etiopiër besef dat Jesus die Een is wat nie 'n negatiewe woord geuiter het toe Hy onskuldig ter dood veroordeel is nie!
 
Die rede vir sy stilswye? Jou, my en die lewe van elke mens wat ooit gebore word, moes vrygekoop word van die vloek van sonde. Dit was Jesus se lewe in ruil vir ons s’n.
 
Hierdie is egter nie die einde van die belangrike amptenaar se geestelike reis nie. Op pad kom hulle op water af en hy sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?” (Handelinge 8:36) Die wa het daar en dan stilgehou, albei het in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. (Handelinge 8:38)
 
Maar iets vreemd gebeur – toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here skielik vir Filippus weggeneem. Die Etiopiese amptenaar het sy reis met blydskap voortgesit. Filippus is wel later in Asdod, 'n antieke Filistynse hoofstad aangetref, waar hy sy roeping en bediening voortgesit het deur die evangelie oral te verkondig. Sy gewilligheid om te gaan waar ookal die Here hom wil gebruik, beklemtoon die dringendheid om die evangelie aan alle mense te bring. Ook in die hier en nou!
 
Kan jy die hand van die Here en sy Gees sien in die verloop van die hofdienaar en Filippus se lewens? Die Here se kreatiwiteit om mense se paaie met ander te laat kruis sodat hulle Hom kan ontmoet, ken gee perke nie. Hy vra net jou, my en elke gelowige daarbuite se bereidwilligheid om met Hom saam te werk - as geroepenes! As medewerkers!
 
Gebed: Vader, sonder oop ore en ontvanklike, gehoorsame harte, kan u kinders nie reageer op die inspraak van die Gees, of die stem van die Engel van die Here nie. Mag ek vra dat U in u kinders 'n begeerte sal plant om U beter te leer ken en met entoesiasme te reageer op u roeping in ons lewens. Amen