Carina Francke 

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” Lukas 10:27, 1983-vertaling
 
Bogenoemde Skrifvers is die antwoord wat 'n wetgeleerde gee op sy eie vraag aan Jesus oor wat hy moet doen om die ewige lewe te kry. Jesus bevestig dit: “Doen dit en jy sal die lewe verkry.” (Lukas 10:28) Maar dan vra die wetgeleerde 'n vraag waaroor die moderne mens ook vraagtekenplooie trek: “Wie is my naaste?”
 
Vanuit 'n praktiese, moderne konteks, wil ek dit beantwoord aan die hand van wat ek in ons omgewing beleef het. Vroegdag, eenkeer per week, net nadat die meeste inwoners reeds op pad werk toe is, is hier 'n klompie entrepeneur vullissorteerders wat glas, plastiek en papier uit vullisdromme vis om 'n inkomste te genereer. Afvalkos in die drom, beland ook in 'n gebruikte sakkie … vir later. Miskien. As dit nog eetbaar is.
 
Vandeesweek was anders. Met ons verbyry en kopknik groet, merk ons op dat elke vullisblik entrepeneur staan en eet aan 'n warm, vars gebakte brood in die hand. Samaritaanliefde (barmhartigheid) uit die gee-hand van omgeemense.
 
Steeds in ons 2022 konteks. Ek ontvang onlangs 'n foto op my selfoon van twaalf oopmond glimlag kinders (sonder gesigmaskers). Saam met hulle op die foto is twee weldoener medici en drie teaterpersoneel. Hierdie kinders wat in uiters minderbevoorregte omstandighede opgroei, se ortodontiese gebreke, skewe kakebeen, slegte, skeefgegroeide en misvormde tande, is kosteloos deur twee tandheelkundiges en hul teaterpersoneel herstel.
 
Vandag se Skrifgedeelte vertel van ’n insident waar drie persone die geleentheid gehad het om 'n tasbare en sigbare liefdesdaad (barmhartigheid) aan 'n slagoffer van misdaad te betoon. Twee van die verbygangers, 'n Leviet (kenner van die wet) en 'n priester (godsdienstige leier), gooi 'n blinde oog en lig nie 'n vinger om die man te help nie. Die derde man, 'n Samaritaan gaan egter uit sy pad om hierdie stukkend geslaande, kaal, half dooie man, te hulp te snel. Op 'n baie praktiese manier, demonstreer hy hoe ek en jy iemand se naaste kan word.“… hy het op hom afgekom en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Hy het hom op sy rydier gehelp en hom na 'n herberg geneem en hom daar verder versorg. Hy betaal ook die herbergier vooruit vir verdere versorging van die slagoffer. (Lukas10:33-35)
 
Klink vir my na iemand wat liefdesdade uit sy hart, siel, krag en verstand pleeg. Maar ook pynlik daarvan bewus is dat sonder liefde vir God, alle liefdesdade tevergeefs is. Jou naaste is die persoon in nood wat jou lewenspad kruis en aan wie jy medelye betoon. Maar moet jouself nie om die bos lei nie – medelye is nie maar net 'n gevoel nie, maar bulder in sy wese: “Liefde! Aksie! Doen!" …met dieselfde gesindheid as die barmhartige Samaritaan. Die vraag aan jou: Het jy jou naaste lief soos wat jy jouself het?
 
Gebed: Vader, laat my hart gebreek word deur die dinge wat u hart breek. Dankie dat U Samaritaan geleenthede my pad langs stuur, sodat ek die liefde en genade wat U aan my bewys het, skaamteloos met mense kan deel. Amen